Sonkind on March 6th, 2010

Ek het besluit hierdie gaan my jaar vir meer reguit praat wees en daar is iets wat my al lankal krap. Ek gaan nou seker my kop in ‘n lekker byenes indruk, maar waddehel. Almal kan in elk geval nie saamstem as ons ‘n ordentlike debat wil voer nie.

Hoekom is Afrikaanse mans so lief om hul vrouens “Mamma” te noem? Die afgelope ruk moes ek onder andere die volgende aanhoor:

“Vat vir Mamma vir ‘n dans.” (Een vriend aan ‘n ander vriend)

“Mamma, wat eet ons vanaand?” (Man vra vir sy vrou)

Verskoon my Frans, maar fok man, as jy ‘n ma wou hê, vir wat het jy getrou? Hoekom nie sommer net vir tyd en ewigheid aan jou ma se voorskoot bly hang nie?

Maak ek nou ‘n growwe veralgemening of is dit dalk hoekom so baie Afrikaanse mans al vir lang jare oor die draad loop wei? Want vroulief is mamma gemaak. Sy word by die huis gelos met ‘n tropseltjie snotneusies, moet sorg dat huis en haard skoon bly en almal voedsaam gevoed bly, terwyl “Pappa” die wye wêreld gaan trotseer en voorsien.

Omdat geen volbloed man seksueel belang kan stel in sy “ma” nie (tensy hy iets makeer), vind “Pappa” iewers uiting vir sy fantasie van ‘n volbloed, warm vrou in die arms van een of ander vrou wat haar nie ge-laat “Mamma” het nie. Maar glo my vry, DAAI vrou sal hy nooit trou nie, want wie sal dan sy mamma wees?

En eendag, so ‘n jaar of twintig terug, toe skrik party “mammas” wakker en hulle kom agter daar is ‘n lewe buite die kombuis en skielik skiet die egskeidingsyfer die hoogte in. Want “pappa” sien nie kans vir iemand wat skielik sy woord bevraagteken in sy huis nie, iemand wat self geld verdien en sodoende ‘n stem in die stand van sake verwerf het en ook wil uitoefen. Iemand wat skielik spreekwoordelik langs hom wil loop, en nie ‘n tree of wat agter hom nie. Hoe kan “mamma” dan nou skielik so arrogant wil word?!

Oom Angus kom en sê ons moet weer ons mans respekteer as die hoof van ons huis, dan sal dit weer goed gaan in ons land. Gmpf, oom Angus, respek is ‘n two-way street.

Ek is niemand se mamma nie en ek gaan geen man laat goed voel net vir die eenvoudige rede dat hy ‘n man gebore is nie. Ek is geensins verbaas dat so baie Afrikaanse wit vrouens vandag vir hulle enigiemand anders vat behalwe ‘n WIT Afrikaanse man nie. Dalk behoort dit vir ons “Pappas” iets te vertel.

Sonkind on March 1st, 2010

Harriet White Fisher en haar nefie was reeds halfpad om die wêreld toe hulle met hul Locomobiel (destyds het dit selfbewegende voertuig beteken) teen ‘n slakkepas opkruip teen ‘n klipperige bergpas in Japan en slegs sentimeters van ‘n 100 voet afgrond tot stilstand kom.

Voor hulle was ‘n lendelam voetbrug van bamboesriet. Die brug was omtrent die helfte so breed as hul oorlaaide kar en die moontlikheid was groot dat dit sou padgee onder die gewig van selfs net een persoon.

Fisher was ‘n 43-jarige sosiale vlinder van Trenton, maar sy was ook vasberade om die eerste vrou te word om rondom die wêreld te ry met ‘n motor. Daar was vir haar dus net een opsie op daardie dag in Mei 1910.

Vorentoe!

“Ek het ‘moet nooit omdraai nie’ ‘n leuse in my lewe gemaak,” skryf Fisher later, “en alhoewel dit soms gelyk het asof dit heeltemal onmoontlik was om met daardie paaie te reis, het ons steeds net aangehou.”

Omdraai was nooit Fisher se manier van doen nie, eerder voort stoom op alle silinders.

Hier was ‘n vrou wat in haar 30’s reeds ‘n weduwee geword het. Met die erf van ‘n vervaardigingsaanleg van haar skatryk man, word sy die enigste vrou in die VSA wat ‘n fabriek besit.

Harriet White is gebore in ‘n welvarende familie in die weste van Pensilvanië. Sy was lief vir die vryheid van die buitelewe. “Ek was altyd die een om aas aan die hoeke te sit, die koeie te melk, boom te klim en 101 ander dinge te doen wat sogenaamd beperk was tot seuns,” vertel sy.

Op 32 trou sy met Clark Fisher, eienaar van die Eagle Anvil Co. in Trenton en trek saam met hom na ‘n pragtige huis in E. Hanoverstraat 125. Vir baie vroue uit daardie era sou so ‘n huwelik hulle verseker het van ‘n stabiele finansiële toekoms en hulle sou hulself verder aan huis en haard gewy het.

Die nuwe mevrou Fisher word egter nie daardie kans gegun nie. Drie jaar na hul troue reis hulle per trein deur die distrik Middlesex. Die trein ontspoor en in die ongeluk word Clark Fisher ernstig beseer. Twee maande daarna sterf hy.

Die besigheid se verantwoordelikhede kom rus nou vierkantig op Harriet se skouers en dis hier waar sy haar staal wys. Sy gaan na Eagle Anvil, geleë in Fair Street, tans Route 29 in Suid-Trenton, laat al die fabriekswerkers bymekaar roep en kondig aan dat sy van nou af hulle nuwe baas is.

“Sommige het my snaaks aangekyk, sommige het absoluut geen aandag aan my gegee nie en deur my gekyk asof ek net ‘n klein stofdeeltjie was,” sou Fisher later vertel.

Ondanks die koue verwelkoming, verdien die maatskappy se nuwe president gou die werkers se respek. Sy leer elke stap in die vervaardiging van aambeelde en bankskroewe en staan binne-in die hitte van die yster smeltoonde, waar sy bevele gee en gehoorsaamheid afdwing.

Fisher se onverskrokkenheid en hardkoppigheid maak van haar ‘n uitstekende sakevrou. Sy vermeerder die maatskappy se winste viervoudig en palm ook ‘n regeringskontrak in, vir die voorsiening van aambeelde wat gebruik sou word met die bou van die Panama Kanaal.

“Die vroue-ystermaker,” noem die koerant vir Fisher, met verwondering. Hulle beskryf haar as ‘n dame wat ewe tuis is in ‘n oorpak in ‘n fabriek, as in ‘n elegante aandrok tussen adellikes en miljoenêrs.

Die dood van haar man het ook ‘n ander verreikende gevolg. Fisher wou nooit weer daarna in ‘n trein ry nie en het treine “benoude goed” genoem.

Sy neem dus ‘n nuwe sport (volgens haar) op, naamlik motorbestuur. Sy koop vir haarself ‘n Locomobiel, op daardie stadium een van die top voertuie, met ‘n 40-perdekrag enjin. Soms gaan sy op weeklange uitstappies na plekke soos Ohio en Virginia, waar sy op grondpaaie ry teen die maksimum spoed destyds wetlik toegelaat - gewoonlik so 10 tot 15 myl per uur (16 tot 24 km/h).

In die lente van 1909 besluit Harriet om ‘n baie groot onderneming aan te pak. Saam met haar nefie en chauffeur begin sy voorberei om per motor om die wêreld te reis. Sy sou Europa oorkruis, dan die Indiese subkontinent, Japan en dan Amerika, voordat sy terugkeer huis toe, na Trenton. Dit sou omtrent ‘n jaar duur.

Om die oseane te kruis, sou sy natuurlik haar motor per skip moes laat vervoer, maar die dele oor land, wat sy per motor sou aflê, was steeds meer as 10 000 myl (16 000 km) se bestuur.

Net die vorige jaar het die wêreld se beste motorbestuurders, almal mans, deelgeneem aan die opspraakwekkende New York-na-Parys resies. Baie min van hulle het Kalifornië gehaal, nog minder Parys. Nou sou ‘n vrou dieselfde moeilike roete aanpak, maar oppad in die teenoorgestelde rigting.

Hierdie was ‘n era waarin vrouens nog nie eers stemreg gehad het nie, en hier kom ‘n vrou wat reeds orals heen self bestuur en nou nog boonop besluit om op haar eie om die wêreld te reis, per motor!

Dit het nie saak gemaak dat Fisher self nie stemreg vir vroue ondersteun het nie en selfs een keer vir ‘n joernalis van die New York Times gesê het “‘n vrou se plek is by die huis.” Die publisiteit wat sy veroorsaak het as gevolg van haar voorgenome reis, het die idee laat posvat dat vroue besig is om al hoe meer vryheid te verkry en dinge kon regkry wat voorheen slegs vir mans gereserveer was.

Soos die redakteur van ‘n Motor tydskrif destyds gesê het: “Elke vrou wat leer om motor te bestuur, is ‘n revolusie in die kleine.”

Fisher het natuurlik sekere voordele gehad wat min vroue van daardie tyd beskore was. Sy was ryk genoeg om ‘n chauffeur, ‘n “butler” en ‘n bediende saam te neem. Sy het ook letterlik ‘n ton voorrade saamgeneem, insluitende ‘n enorme groot tent. Sy het selfs haar geliefde bulhond, “Honk-Honk”, saamgeneem.

Op 19 Julie bestuur sy vanaf Trenton na New York en begin haar epiese reis deur die Locomobiel in ‘n massiewe krat te laat laai en saam met haar te verskeep na Frankryk. Ingesluit was ‘n spesiale petroltenk onder die agtersitplek, wat die bestuurder toegelaat het om 400 myl te ry voordat dit nodig was om weer brandstof in te neem.

Die volgende week vertrek sy uit Parys en ry rustig verby ouderwetse plase en deur die Alpe, waar die mense haar met verwondering gadeslaan. Meeste Switsers het toe nog nooit eers ‘n motor gesien nie.

“Soos ek verby hulle gery het, het ek die mense gegroet met “Guten tag” en die boere het met hulle hoede gewaai, terwyl die kinders bosse veldblomme in die motor ingegooi het,” skryf sy in haar 1911 memoir, “A Woman’s World Tour in a Motor.”

Met haar tydsame skedule neem dit haar meer as ‘n maand om tot by Lake Como, Italië te ry. Hier vertoef sy van September tot Desember voordat sy haar skeepspassaat bespreek vanaf Marseille, Frankryk na Bombaai.

Haar plan was om deur die Indiese oerwoude en stowwerige valleie te ry, op plekke waar geen ander motor nog gery het nie, met behulp van verkenners wat brandstoftenks by depots langs die 2000 myl lange roete sou los.

Die Britse owerhede, wat destyds Indië regeer het, het haar gewaarsku om nie voort te gaan as sy haar lewe liefhet nie. “Mevrou, jy sal dit nie eers so ver as 20 myl uit Bombaai maak nie,” het een offisier gesê.

Fisher ry egter deur Indië binne vier maande. Sy neem ‘n apie aan, huur plaaslike gidse om haar tent met gewere en al op te pas en neem ‘n blaaskans langs die pad by ‘n maharadja se paleis. Daar pas sy ‘n sari aan en is vol lof vir die kledingstuk, wat baie meer gerieflik was as die damesklere van haar era.

In Japan staar sy die mees dramatiese hindernis in die gesig - die afgrond in die bergpas en die lendelam bamboes voetbrug. Hoe nou verder?

Fisher slaan kamp op vir die nag en bedink haar situasie. Die volgende dag huur sy van die plaaslike arbeiders om die brug breër te maak en te versterk met hout planke. Hierna ry sy ewe dapper oor die brug en reis verder na Tokio se hawe.

Die laaste deel van haar reis, oor land deur Amerika, word ‘n segetog. In San Francisco, Chicago en New York vier die outomobielklubs haar prestasie. Met haar terugkoms in Trenton, op 16 Augustus 1910, gee al 300 werknemers haar ‘n helde-ontvangs.

Brooks, haar chauffeur, moes 20 keer ‘n band vervang op die reis, maar wonderbaarlik nooit enige ander onderdele nie.

In die jare hierna, het Mev Fisher nooit weer iets so waaghalsigs aangepak nie. Sy het al haar aandag aan die fabriek gegee en later weer getrou, met ‘n Argentynse vlootoffisier, Silvano Andrew. Hulle trek later na ‘n landgoed in Ewing.

In 1939, op die ouderdom van 72, sterf sy, kinderloos.

Harriet Fisher was glad nie meganies aangelê nie. Sy het grootliks op haar chauffeur staatgemaak om meeste van die bestuurwerk te doen en vandag is daar byna niemand meer wat haar verhaal ken of haar onthou nie. Nogtans het haar onverskrokke voorbeeld - om die woesste, wildste, vreemdste hoeke van die aarde per motor te gaan verken - vele vroue, en mans ook, oortuig dat dit veilig is om per motor te reis.

“Die suiwere spektakel van haar hele reis het in ‘n groot mate bygedra tot groter gewildheid van die motorvoertuig,” het Virginia Scharff, ‘n professor aan die Universiteit van Nieu-Mexiko en die skrywer van “Taking the Wheel”, ‘n geskiedenis oor vroue-bestuurders, gesê.

“Iemand het heel moontlik gesê as ‘n vrou ‘n motor om die wêreld kon ry, hoekom kan enige ander idioot nie ook ‘n motor bestuur nie?”

Bron: http://www.capitalcentury.com

Fisher, Harriet White. A Woman’s World Tour in a Motor. Philadelphia, PA: Lippincott Co., 1911. 360 p.

Lees die boek hier aanlyn:

http://www.archive.org/stream/awomansworldtou00fishgoog#page/n12/mode/1up

Sonkind on February 28th, 2010

Julle weet wie julle is ;-)

Sonkind on February 20th, 2010

Nooit is ‘n woord wat mens maar eerder met respek moet gebruik en ook nie te veel nie en ook nie te seker van jou saak nie. Want nooit is ‘n baie lang tyd.

Ek het altyd gesê ek wil nooit in Stellenbosch bly of werk nie. Die rede? Ek weet self nie eintlik regtig nie, dis net asof die dorp se aura en myne bots. Of dalk is onbekend net onbemind.

Anyway, famous last words.

Maar die storie kom met ‘n draai. Na 8 jaar en 4 maande by een plek, in een kantoor, by dieselfde lessenaar, het ek verlede jaar Oktober die laaste keer daar uitgestap. Werkloos. ‘n Gevreesde woord in hierdie tye.

Ek was nog net een keer voorheen in my lewe werkloos. In 1991, toe ek weggeloop het met twee kinders, my kar en my hond, van my slegter helfte af. Ek was 3 weke terug in die Kaap, toe het ek werk en die kind se naam is weer Wit Willem.

Hierdié keer was dit nie so maklik nie. Ek vertel nie sommer aldag hier van die sleg of die seer in my lewe nie, ek hou dit vir myself. Ek sal eerder twak praat of familiestories verkoop. Lag en die wêreld lag saam, huil en jy huil alleen, al maak die wêreld of hulle jou troos. Ons elkeen is soms jammer vir ander se swaarkry seerkry, maar ons is ook diep binne ons bly dis nie ons swaarkry seerkry nie. Dis hoe dit is. Die lewe. En dis reg so.

So, toe bevind ek my weer werkloos na 18 jaar. Dit het gelukkig nie skielik gebeur nie, so ek kon voorsiening maak. Dis ook nie asof ek vreeslik hartseer was nie, want ek was lankal nie meer gelukkig in my werk nie. Toe ek dus die keuse kry van trek (soos in Johannesburg toe) of trek (soos in vat jou goed en waai) toe kies ek die tweede trek.

Eers was ek nie te bekommerd nie, want daar was ander planne in die pyplyn, so ek het eers lekker gaan vakansie hou. Maar die beste planne val soms deur die mat en toe ek kyk en ek kyk weer, besef ek dis tyd om ander werk te soek. En dis toe wat die kar se wiele so bietjie afval. Want ek is wit en ek is nie meer so jonk nie en as ek nie te veel kwalifikasies vir ‘n werk het nie, dan is ek glad nie gekwalifiseerd nie. Ad infinitum.

Wat het ek in dié tyd van myself geleer? Dat ek iemand is wat moet werk, nie net vir die geld nie, maar ook vir die selfrespek.

Ek het myself geregistreer by verskeie agentskappe, vir enige en alle tipe werk, en die werk het so drup-drup ingekom. Ek het letterlik omtrent alles ‘n probeerslag gegee, maar ek was heeltyd ontuis in my eie vel. Dis soos om in ‘n tent te leef en van kampeerplek na kampeerplek te bly. Onstandvastig.

Mens ontmoet ook die aardigste karakters en beleef die vreemdste dinge. Soos die trein ryery en die ‘baas’ by een werk in Kaapstad wat elke middag 12 uur kerk gehou het in sy kantoor. Nee, nie soos in met die Bybel en bid nie. Elke dag 12 uur moes almal wat vir hom werk in sy kantoor vergader en dan is dit uitskel parade. Hy vloek en verskree letterlik ten minste twee mense elke dag oor hulle so onnosel is en iets nie reg gedoen het nie, wat selfs ‘n 12-jarige sou kon regkry, volgens hom. Ek sweer die man het ‘n fetish gehad oor die nommer 12. Ek het net 3 dae daar gehou. Voor hy my kon verskree. Want ons was op die 13de verdieping en ek mag hom dalk net by die venster uitgebliksem het. Toe loop ek eerder.

Ek is oor net een ding jammer. Ek het iemand daar leer ken wat ek ‘n vriendin van sou kon maak. Maar mens leer los lewe as jy elke tweede week iewers anders voor moet begin.

Ek het ook geleer dat ek nie ‘n verkoopspersoon se gat werd is nie. Dis die moeilikste job op aarde en ek haal vandag al my hoede af vir mense wat enige iets verkoop en ‘n goeie lewe daaruit maak. Ek het doodgewoon nie die persoonlikheid daarvoor nie.

Ek was regtig al teen die grond van moedeloosheid oor die nomade werkery, nooit langer as 2 weke op ‘n plek nie. En toe gebeur alles sommer so op een slag. Dis soos as mens ‘single’ is, dan kry jy nie ‘n maat nie, en dan, wanneer jy die dag iemand het, val al die ander oor hulle voete om by jou te kom vry.

Voorlaas Woensdag gaan ek vir ‘n onderhoud by ‘n plek in Stellenbosch, die CSIR. Die agentskap stuur my en ek wonder of die girl mooi na my CV gekyk het, want P A was ek nog nooit nie, maar ek het nou al amper alles gedoen, so ‘what the hell’. Die mense soek ‘n P A vir 11 navorsers, maar dis net ‘n 6 weke tydelike werk. Ek gaan met geen verwagtinge nie. Die onderhoud is maklik en ek doen die vier toetse wat hulle my gee. Drie is ‘n breeze, maar die Powerpoint ene laat my klippe kou en ek loop daar uit en besluit dis neusie verby. Daar sou nog 5 ander kandidate kom vir onderhoude.

Intussen word ek gebel vir nog twee ander werke (waarvoor ek op my eie aansoek gedoen het) en veral die een is ek nogal opgewonde oor. Ek word vir ‘n tweede onderhoud genooi by dié een en ek word al hoe meer hoopvol. Maar na die tweede onderhoud hoor ek niks.

Maandag bel die girl van die agentskap my. Ek het die P A werk gekry en moet dadelik begin! En hulle gee my ‘n TWEE maande kontrak met die opsie om te hernu. Ek aanvaar met dank, want ek het nog niks van die ander twee gehoor nie en so begin ek toe werk in Stellenbosch, sonder dat ek eintlik eers weet vir wie ek gaan werk. Ek kry my eie kantoor en almal gaan uit hulle pad om my welkom te laat voel en vir die eerste keer in maande dink ek “Hier sal ek graag wil bly werk. Hier voel ek tuis.”

Die werk is glad nie so ‘daunting’ as wat dit geklink het nie en dis heluit interessant. Basies moet ek 11 navorsers se lewens so glad as moontlik laat verloop, maar meeste van hulle is meeste van die tyd landuit. Verder mag ek niks sê nie, want Donderdag vind ek toe uit dat CSIR die Engelse afkorting is vir WNNR. Ja, trust my om nie eers te weet vir wie ek gaan werk nie en ook nie eers te gewonder het daaroor toe ek die ‘Oath of Secrecy’ moes aflê nie!

Om die kersie op die koek te sit, hoor ek toe Vrydag dat ek altwee die ander werke ook gekry het, maar ek het besluit om die kans te vat en die twee maande te bly waar ek is en hard te bid en te glo dat ek die mense so baie van my gaan laat hou, dat hulle my vir altyd sal wil hou. Anders is ek oor twee maande weer werkloos!

So, nou wil ek, wat NOOIT in Stellenbosch wou werk nie, sommer vir altyd daar werk :-)

Sonkind on February 15th, 2010

Hierdie boek is al elders ook bespreek, maar ek sal voel asof ek iets onvoltooids laat as ek nie my eie opinie van die boek neerpen nie. Alhoewel ek jare terug heelwat van Audrey se vroeëre bundels gelees het, sal ek moet jok as ek sê ek onthou wanneer laas ek iets van haar gelees het. Ek onthou wel dat ek haar skrywes altyd heluit geniet het, maar dié onthou het eers weer teruggekom toe ek nou hierdie briewebundel van haar begin lees.
 
Ek het al op ver en vreemde paaie gedwaal met my lesery. Daar is al van my gesê dat ek alles lees waarop ek my hande lê, tot die etikette om blikkieskos! Dis nie te ver van die waarheid nie en omdat ek so alles lees, lees ek soms ook swakker boeke, maar ek het hierdie leesdrif in my wat sal maak dat ek selfs ‘n swak boek probeer klaar lees, eerder as om nie te weet hoe eindig die storie nie.
 
Toe ek met Audrey se boek in my hand staan in die biblioteek, het ek gewonder of ek regtig lus het om iemand se briewe te lees, maar onverklaarbaar kon ek dit ook nie terugsit op die rak nie. En van die eerste woord af was ek vasgevang en kon ek nie ophou lees nie. Dis vir my eintlik jammer dat die briewe nie kon aanhou tot 2008 nie.
 
Ek kon nie wag om te lees hoe Audrey die nuwe Suid-Afrika en sy skrywers ervaar het nie en ek is eintlik half teleurgesteld dat daar nie meer van haar briewe is waar sy daaroor skryf nie. Ek het ook lekker gelag toe sy vertel dat sy nie van plan is om ooit ‘n hygroman te lees nie. Dis nogal jammer, ek sou graag haar kommentaar daaroor wou hoor. Toemaar Audrey, ek moet ook nog ‘n hygroman lees!
 
Haar briewe is vir my ‘n rykdom van aanhalings wat ek neergepen het en altyd wil onthou en van boeke wat sy aanbeveel het, wat ek nou wil gaan soek en lees. Sommiges sal seker al uit druk wees, maar ek is seker dat ek deur haar ‘n hele paar gaan ontdek wat ek ook gaan gate uit geniet om te lees.
 
Ek wil graag een van haar aanhalings van Rilke hier neerpen. Dis vir my so pragtig verwoord:
“Gedigte is nie, soos mense dink, eenvoudig emosies nie (’n mens het vroeg genoeg emosies) - gedigte is ervaringe. Ter wille van ‘n enkele gedig moet ‘n mens baie stede, baie mense en baie dinge sien. Jy moet diere begryp, jy moet voel hoe voëls vlieg, en jy moet die gebaar ken waarmee klein blommetjies in die oggend oopgaan. ‘n Mens moet kan terugdink aan paaie in onbekende streke, aan onverwagte ontmoetings en aan ‘n afskeid wat jy lank tevore sien aankom het. Jy moet dae uit jou kindertyd kan herroep, daar waaroor jy nog nie helderheid het nie, aan jou ouers wat jy moes krenk toe hulle jou tog ‘n plesier wou besorg en jy dit nie begryp het nie. Jy moet kan dink aan dae in stil gedempte vertrekke en aan oggende by die see, aan die see veral, aan oseane, aan nagte op reis wat hoog om jou verrys en saam met die sterre verdwyn, en dit is nog nie genoeg wanneer ‘n mens aan al hierdie dinge dink nie.
 
‘n Mens moet die herinnering hê aan baie liefdesnagte, waarvan nie één soos die ander was nie, aan kermende vroue in barensnood. Maar ook by sterwendes moet ‘n mens gewees het, ‘n mens moet by ‘n dode in ‘n kamer gesit het, in ‘n kamer met ‘n oop raam en die geluide wat in rukkende vlae binnekom.
 
Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie - eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

 
Audrey was ‘n mens met ‘n fyn siel, vir my ‘n regte ouwêreldse dame, met ‘n fyn humorsin en ‘n heerlike onnutsigheid aan haar. Die wat haar geken het, is voorwaar bevoorreg.
 
Vir enigiemand wat die Afrikaanse taal koester en versot is op lees, is Audrey se boeke, en ‘n Blywende Vreugde spesifiek, ‘n absolute noodsaaklikheid om te lees. Ek wil nou weer al haar bundels lees.