Ek geniet my nog gate uit met Dellie se Tandemstorie-speletjie
Hier is my en Demoerin se eerste hoofstuk. Ek het begin, so my dele is in swart; Demoerin s’n is in blou. Enjoy!
***
Dis reeds skemer toe sy die deure agter haar toesluit. Terwyl sy handsak, skootrekenaar, sleutels en selfoon alles tesame probeer balanseer met net twee hande, dink sy daaraan dat sy heeltemal vergeet het om vir Tiaan te bel en haar finale antwoord te gee en sy het belowe om dit voor sewe te doen. Met ‘n skrams loer sien sy dis reeds vyf minute voor sewe. Sy gaan staan vir ‘n oomblik doodstil en oorweeg haar opsies. Sy kan teruggaan boontoe na haar kantoor en die oproep rustig van daar af doen, want dit kan dalk ‘n lang gesprek raak, of sy kan dit sommer in haar motor doen oppad huis toe. Laasgenoemde is natuurlik nie die beste keuse nie vir al die voor die hand liggende redes, maar wat de hel. Sy is haastig om by die huis te kom. Die oomblik toe sy haar motorsleutels van hande verwissel om die deur te kan oopsluit, sien sy die skrams beweging aan die onderpunt van die ondergrondse parkering. Die volgende oomblik gooi die krag van die ontploffing haar reg bo-oor haar motor en haar laaste gedagtes raak weg in ‘n donker gat.
Tiaan leuen terug in sy stoel en rus sy voete gekruis op die blink lessenaar. Hy neem ‘n klein slukkie van die Cardhu. Die liggoue kleur glinster deur die kristal van die glas. Die enigste manier om sy gunsteling whiskey te geniet. Die perfekte, wel amper perfekte einde aan ‘n baie besige week. ‘n Derde suksesvolle eiendomstransaksie met ‘n ontwikkelaar in Dubai hierdie maand gaan sekerlik verseker dat hy met ‘n vet bonus hierdie maand wegstap. Uit die hoek van sy oog sien hy weer die kaartjies wat sy assistent, Belinda, vroeër langs sy telefoon neergesit het. Die week was amper perfek, dit is alreeds 15 minute oor sewe en hy wag nog vir Sandra se beloofde oproep. “Ai tog, die meisiemens weet ek hou van stiptelikheid” sê hy hardop vir sy beeld in die televisieskerm. Bel gaan hy ook nie nou nie, want “hard to get” is ‘n beter motto as Skoothondjie Sarel. Hy trek die afstandbeheer nader en flitsende polisie- en ambulansligte met huilende sirenes verskyn op die skerm. Tiaan moes twee, toe drie keer kyk om seker te maak, want hy kyk na die kantoorblok, of eerder wat oor is van die gebou waarin Sandra werk. ‘n Koue vrees klem om sy hart terwyl hy die Cardhu met een teug wegsluk.
Dit is ‘n kakofonie van geluide in haar kop en rondom haar. Sandra is vir ‘n paar oomblikke nie seker of sy dood is en dalk in die hel is nie. Eie aan haar ietwat aweregse sin vir humor, dink sy heel eerste sy hoop regtig die hel is nie so raserig nie. Dan spoel die onthou oor haar en skielik is haar brein helder wakker en sy besef dat dit die polisie en nooddienste is wat so raas. Terwyl sy haar ledemate een vir een beweeg om seker te maak alles is nog waar dit moet wees en in werkende toestand, besef sy dat sy die geheuestiffie in die hande moet kry, voordat enigiemand haar hier kry en hospitaal toe sleep. Sy kreun saggies toe sy probeer regop kom, maar byt op haar tande. Haar kop skree en sy weet sy moes hel hard geval het. Dis toe sy probeer regop kom, dat sy sien waar die skootrekenaar lê, omtrent vyf meter van haar af. Sy dink nie nog daaraan om verder te probeer opstaan nie, maar kruip letterlik op hande en knieë soontoe. Sy het skaars haar hand in die sysak gesit en met groot verligting die geheuestiffie raakgevat, toe die eerste brandweerman oor die stukke puin geklouter kom en haar raaksien. Sy druk die stiffie vinnig in haar langbroek se sak - Tiaan maak haar vir seker dood as sy hulle plan verongeluk deur die ding te verloor, al is dit nou ook deur iets so erg soos ‘n ontploffing.
In die waas van gebeure om haar voel Sandra hoe die naald in haar arm gedruk word. Net voor sy haar bewussyn verloor druk sy haar selfoon in die dokter se hande, en prewel die woorde: “Bel vir Tiaan….. in my broeksak”. Tiaan se foon lui toe hy alreeds al vleggende deur die verkeer oppad is. Die dokter deel hom mee dat hulle vir Sandra kliniek toe vat. Tiaan hou met moeite sy aandag op die pad. Tientalle gedagtes flits deur sy brein. Hulle kan tog nie weet nie? Is dit die Arabiere? Die Amerikaners? Blote toeval? Al wat hy weet is dat hy so gou moontlik by die kliniek moet uitkom. Daardie stiffie hoort veilig in sy hande, of hulle wêreld gaan inmekaartuimel. Met ‘n skreeu van remme en bande kom hy tot stilstand voor die kliniek se hoofingang. Hy hardloop amper in die deur vas toe dit nie gou genoeg wegskuif nie. In die verbysnel by die ontvangstoonbank kon hy uitvind Sandra is op die sesde vloer in die waakeenheid. Dit blyk of dinge begin regloop toe een van die hysbakke oopgaan net toe hy by die trappe se deur wil indraf. Hy loop trompop in ‘n man met ‘n swart hoed en jas vas wat die hysbak verlaat. Hy ignoreer die man se ongeskikte aanmerkings en druk 6. Met die oopgaan van die deure staan hy in ‘n oogwink voor die verpleegster agter die toonbank. “Sandra se persoonlike besittings, waar is dit? Ek is Tiaan.” is al wat hy kan uitkry tussen sy hyg na asem deur. “Tiaan?” sê die verpleegster. Verbasing oor haar gesig ge-ets. “Tiaan was nou net hier” hoor hy haar vaagweg prewel terwyl ‘n koue sweet op sy voorkop uitslaan.
Voor hy homself kan keer, slaan hy so hard met sy vuis op die dienstoonbank dat die verpleegster verskrik agtertoe tree. “Verdomp man, EK is Tiaan! Jy kan mos nie sommer net goed aan iemand oorhandig op sterkte van sy woord nie. Het jy nie vir identifikasie gevra nie? Wat het jy alles vir die man gegee?” Die verpleegster sluk-sluk verbouereerd, want die man voor haar lyk kapabel en rand haar aan. “Dit was ‘n rekenaar, ‘n handsak en twee stelle sleutels, ek dink huis- en motorsleutels, Meneer.” Voor Tiaan verder sy woede op die verpleegster kan uithaal, kom ‘n suster deur die swaaideure met ‘n plastieksakkie klere in haar hand. Sy hou dit na die een agter die toonbank uit en sê; “Hier is die klere van die meisie wat in die ontploffing was. Dis plek-plek erg geskeur en sal seker moet weggegooi word, maar bêre dit maar by haar ander persoonlike goed.” Voor Tiaan of die verpleegster iets kan sê, draai die suster om en verdwyn weer deur die swaaideure. Tiaan kyk vies na die sakkie klere. Wat de hel moet hy nou daarmee doen? Die dokter het hom gesê Sandra het iets van ‘n sak gemompel, so daardie stiffie is in haar rekenaarsak of haar handsak en dié is nou weg saam met die “ander” Tiaan. Wat ‘n helse gemors!
Sonder om na Sandra se gesondheid te verneem gryp Tiaan die sak met klere en beweeg soos ‘n slaaploper terug na sy kar toe. Hy gooi die sak in sy kattebak en skuif agter die stuurwiel in. Neem 10 diep asemteue. Verbrands hy moes daardie stiffie in die kluis gehou het. Maar die water is onderdeur die brug en dit help nie om nou te wonder oor wat gedoen moes word nie. Daardie stiffie bevat besonderhede van elke kontak, en elke transaksie van hoe die geld rondgeskuif is om uiteindelik by die Dubai ontwikkelings uit te kom. As sy vriende uit Afrika dit moet uitvind kan hy net sowel solank sy grafsteen more gaan uitkies. Hy voel ‘n bietjie skuldig oor Sandra en onderneem om daardie dokter van vroeër moreoggend te bel. Miskien moet hy gou by Belinda ‘n draai gaan maak en vertroosting gaan soek? Hy skakel sy motor aan en met die uitry uit die parkeerarea merk hy nie die handsak en sleutels op wat eenkant op die sypaadjie lê nie. Hy merk ook nie die swart kar op wat agter hom in die pad indraai nie. Hy kies “Belinda” op die Garmin en volg die instruksies met robotaksies. Die besoekie gaan niks regstel nie, maar miskien sal hy ‘n bietjie opgebeur word. Met die druk van haar hekklokkie gewaar hy skielik ‘n man uit die hoek van sy oog. Hy lyk vaagweg bekend en met ‘n skielike klemming om sy hart besef hy dit is die swartgeklede man van die hospitaal, en dat hy nou al klaar in die blink loop van sy pistool afkyk.
“Kom, kom, beweeg. Jy gaan vir so ‘n rukkie ons gas wees. En moenie eers dink aan streke nie, ek is nie alleen nie”; sis die man in Tiaan se gesig. Tiaan weet van beter as om met ‘n pistool te probeer redeneer en die volgende oomblik druk die man hom agterin ‘n swart Cadillac, met swart getinte vensters. Vir Tiaan lyk dit skrikwekkend baie soos ‘n lykswa. Die bestuurder is ‘n kleinerige vent, met ‘n donkerbril op, maar Tiaan het al geleer om nie klein ouens te onderskat nie en buitendien sit hy agterin vasgedruk tussen die ou met die pistool en ‘n ander breedgeskouerde, Indiese man. Dis dan ook hy wat eerste praat, nadat hulle ‘n ent gery het. “Ons soek die bloudrukke. Dis nêrens tussen haar goed nie, nie in haar handsak nie en ook nie op die rekenaar nie. My deskundige het reeds die rekenaar deurgewerk. As sy dit nie in haar besit het nie, dan is dit by jou. Ons is nie moordenaars nie. Gee dit vir ons en ons los jou. Gee dit nie vir ons nie en ek belowe jou ‘n hel hier op aarde. Ek speel nie, so jy beter praat.” Tiaan se brein werk teen die spoed van wit lig. Hy besef dis nie die stiffie wat hierdie ouens soek nie, maar hy het ook nie die vaagste benul waarvan hulle praat nie. Sandra was duidelik besig met haar eie agenda, waarvan hy niks weet nie en nou is hy vasgevang in die spreekwoordelike kruisvuur. Terwyl hy probeer dink hoe hy dié ouens gaan oorreed dat hy niks weet nie, wonder Tiaan ook terselfdertyd waarmee de hel Sandra besig is en, tipies opportunisties soos wat hy is, of hy dalk die situasie tot sy voordeel kan draai.
Tiaan kan nog steeds nie besluit of hy verlig of bang moet wees nie. Wat wel meer sin maak is al daardie laat aande wat Sandra “gewerk” het en sy nie op kantoor was nie. “Waarmee was hierdie vroumens besig?” wonder hy hardop. “Kom nou my vriend, wil jy my laat glo die boyfriend weet nie waarmee die girlfriend besig was nie? Julle is kop in een mus! Ons soek daardie bloudrukke.” eggo dit in sy ore. “Ek weet nie van bloudrukke nie” stotter hy terwyl hy beangs toekyk hoe die man langs hom sy kneukels kraak. Dit was skaars 10 minute later toe Tiaan onderstebo aan sy voete vanaf die 15de verdieping van ‘n halfvoltooide konstruksie hang. “Kom nou Meneer Brink, ek wil net so min soos jy jou verwronge lyk daaronder op die sypaadjie hê.” Of die skietgebedjies gehelp het weet Tiaan nie, maar skielik onthou hy daardie gekodeerde e-pos wat hy 2 dae terug vanaf Sandra ontvang het, en hoe hy haar nog daaroor wou uitvra. Hy besef hy moet vir tyd speel. “Ek weet niks nie, maar ek kan julle probeer help!” kry hy skaars hoorbaar die woorde uit. Binne ‘n oogwink staan hy weer op sy voete. Tiaan besef dat hy nou mooi gaan moet speel om aan die lewe te bly, en om ‘n geldjie uit die verknorsing te maak. Met nog ‘n skietgebed hoop hy dat daardie e-pos iets met die bloudrukke te doen het. “Maar bloudrukke vir wat?” wonder hy, “sekerlik nie vir ‘n kleuterskool nie!”
Sandra kan nie verstaan hoekom Tiaan haar nog nie kom besoek het nie. Die dokter het haar verseker daar is geen inwendige bloeding, soos hulle aanvanklik vermoed het nie en dat sy net erg harsingskudding het en haar pols gebreek het. Sy sal reeds more al kan skuif na ‘n gewone saal toe. Blykbaar het die verpleegster wat haar persoonlike goed aan Tiaan gegee het, reeds van diens af gegaan. Sy kan dus nie eers uitvind of hy enige iets gesê het of hoe hy opgetree het nie. Hoe meer sy aan sy totale afwesigheid dink, hoe meer de hel in word sy. Het hy besluit sy is oorbodig noudat hy die stiffie uiteindelik in sy hande het? Hy het juis so gekerm daaroor. Gelukkig het sy nog nie vir hom die kode gegee vir daardie e-pos nie. Wel, sy sal net moet sorg dat sy so gou moontlik haarself bymekaar pluk en uit hierdie verdomde hospitaal kom. Wat hy nie weet nie, is dat sy baie groter planne het as sy ou paar transaksietjies met die Arabiere. Vir al wat sy omgee, kan hy vir hom ook ‘n harem aanskaf. Hy moet net nie vir een oomblik dink sy is nie bewus van sy aanhangsels soos Belinda en Susan en wie weet wie nog nie. Gelukkig is haar paspoort na rykdom veilig in die kluis op haar eks se plaas. ‘n Eks waarvan niemand hier in die stad bewus is nie en ‘n eks wat dink hy het haar juwele en haar ma se boedelpapiere vir haar in die kluis gebêre. Ai, mans kan tog so onnosel wees as hulle in ‘n mooi vrou vaskyk. As haar kop nie so verdomp seer was nie, sou sy kon lag daaroor.
Wat Sandra nie weet nie is dat Tiaan in ‘n swart motor, buite sy huis, tussen 2 baie groot mans sit en plegtig belowe om nie te vlug nie. Net vir veiligheid gaan een van die gorillas vanaand tyd op Tiaan se rusbank voor die televisie deurbring. “Nie dat ons jou nie vertrou nie Meneer Brink, maar ons moet ons belange beskerm.” Dit gee Tiaan darem ‘n paar ure tot sonsopkoms om sy planne te beraam. Nommer een op die doenlysie-om-aan-die-lewe-te-bly is natuurlik om so vinnig moontlik met Sandra te praat. Die uitkoms van die gesprek sal die daaropvolgende gebeure beïnvloed, en die feit of hy môreaand veilig in sy bed slaap, of op ‘n koue staalbed in die lykshuis nadat hy die hiermaals vir die ewige verruil het. Hy moes ingesluimer het in die oggendure, want dit was net na 9 toe hy wakker word met die aroma van koffie wat in die lug hang. Hy glimlag met die gedagte dat sy eerste koffie in die bed in die laaste 10 jaar vir hom gemaak is deur die man wat heel moontlik sy lewe vandag mag beëindig. Ironie se Moses! Skuins na 10 en na baie mooi praat en die breedvoerige verduideliking van sy plan staan Tiaan op die sesde vloer van die kliniek. Hy merk Sandra se naam op die diensbord, kamer 610. Die groot mans, een aan elkeen van Tiaan se sye, laat die groepie baie belangrik lyk toe hulle die kamer binnegaan. Binne die volgende paar oomblikke sien Tiaan al hoe sy lewe voor sy oë begin verbyflits. Hy wonder of hy moet probeer weghardloop en die kans waag om dalk geskiet te word. Hy besef onmiddelik hoe dit moet voel om tussen die boom en die bas vasgekeer te wees. Sandra se bed is leeg!
word vervolg…














April 3rd, 2009 at 12:01 pm
Nee o aarde, julle kan mens mos nie so los nie!!!!!
Wanneer is die res beskikbaar - dit is heel interessant, ek kan nie wag vir die res nie!!!!!!!
April 3rd, 2009 at 12:29 pm
Baie, baie goed! Ek sien uit na hoofstuk 2!
April 3rd, 2009 at 12:41 pm
Jinne Dellie, ons sal moet wikkel en skryf skryf skryf!
Oulike, Sonkind en DMI!
April 3rd, 2009 at 12:57 pm
Uhm, ja Emil… ek wag…
April 3rd, 2009 at 1:35 pm
Die lekekrste is dat jy geen idee het waarheen die storie gaan nie. Jy dink jy het net iets ingedagte dan bowl die volgende paragraaf jou uit. Dit is groot pret - Dankie Sonkind en Dellie vir die cool idee!
April 3rd, 2009 at 4:52 pm
Lekker gelees!
Nou wag ons in spanning op hoostuk 2…
Goeie storie julle twee.
April 3rd, 2009 at 5:27 pm
Baie goed maar hoe lank moet ons nou wag vir hoofstuk 2?
April 4th, 2009 at 7:18 pm
Ag nee, net toe dit so lekker boeiend raak. Puik geskryf van altwee kante. Sien uit na hoofstuk 2. Mag hierdie die begin wees van ‘n lekker dik bundel.
April 4th, 2009 at 9:58 pm
Uitstekend, Wagtend op hoofstuk 2
April 5th, 2009 at 11:50 am
Kan nie wag vir die opvolg!!! Baie goed gedoen!
April 5th, 2009 at 12:13 pm
baie goed!
wanne kan ons hoofstuk 2 verwag?
April 5th, 2009 at 6:46 pm
Uitstekend, baie boeiend, spannend en senutergend!Ja ek sal graag die ander hooftukke wil lees, Sonkind mail my asb die res, want my tyd is te beperk om oral te lees.Dan kan ek dit later lees.Welgedaan.
April 6th, 2009 at 7:48 am
Ditto Brein!! Supercool julle 2!!
April 6th, 2009 at 7:49 am
…eehhhmmm niks gutter nie
??? (of kom dit nog??
)
April 6th, 2009 at 10:12 am
NEE BB, geen gutters in die storie nie… wel ek dink nie so nie?
April 6th, 2009 at 2:15 pm
Ek kan nie wag vir die res nie! Julle beter skryf!
April 7th, 2009 at 9:22 am
Stunning!!! Jitte ek het nou lekker gelees… Het eers besef hoe verdiep ek was toe ek amper van die stoel se puntjie afgeval het!!! Kannie wag virrie res….
April 8th, 2009 at 5:51 pm
Cool! Julle twee het lekker gekliek en die breins werk op dieselfde manier. Ek wag ook in spanning op Hoofstuk 2. Rapido, rapido!!