Dellie het hierdie lekker ding begin, en nou trek ek en Demoerin al by Hoofstuk 3. Ek het gedog brandewyn het nie brieke nie, maar dit lyk my brandewyn is ‘n vulletjie teen my en Demoerin se verbeelding. Hier’s hy dan - ta da ta da - Hoofstuk 3 (Ek begin - in swart - en DMI s’n is in blou)
Hoofstuk 3
Leonard kyk Sandra met opgetrekte wenkbroue aan, “Natuurlik lewe die Majoor, hy is veels te hardegat om sommer net dood te gaan van ‘n koeëlwond of twee…”
“Majoor?! Wie de donder is hierdie mense, Sandra?” val Tiaan hom bars in die rede. Hy het besluit as Sandra nie te bang lyk vir die ou nie, dan is dit nou seker die ‘goeie’ ouens. “Wie is hierdie danige Majoor oor wie jy jou oë nou al die afgelope paar ure uithuil? En kan jy nou asseblief daai donnerse ding wegvat, ek gaan nêrens heen nie.” beveel hy Leonard.
Leonard kyk vir Sandra asof hy by haar bevestiging soek dat Tiaan onskadelik is en dis in daardie breukdeel van ‘n sekonde wat hy sy waaksaamheid verslap, dat Tiaan toeslaan. As Sandra kans gekry het om te antwoord, sou sy Leonard dalk kon inlig dat Tiaan glad nie so onskadelik is as wat hy lyk nie, maar Leonard lê reeds op die grond en Tiaan staan met die wapen in sy hand.
“Kom girl, nou gaan jy my help om hierdie ou vas te maak en in die kattebak te gooi en dan gaan ons drietjies bietjie ry en daai bloudrukke gaan haal. Ek was nou lank genoeg “Mister Nice Guy”, Sandratjie. Jy skuld my.”
Sandra besef dat sy nou ‘n kant van Tiaan sien waarvan sy nog net gehoor het, maar haar inherente hardkoppigheid praat namens haar; “Fok jou, jy is mal as jy dink jy gaan hiermee wegkom. André sal jou jag en jou vrekmaak.”
“Ha ha, my pop, nie met jou as my versekering nie. En sy stupid kollega hier. Te oordeel aan die baie trane wat jy oor hom gehuil het en die army wat hy tot jou beskikking gestel het, moet jy nogal iets vir hom werd wees. Wees nou mooi soet en vat my na daardie berugte bloudrukke toe en soos ons vriend hier gesê het, mag ons dalk net verder almal vandag lewendig hier uitkom.”
Dis net stofwolke soos die BMW wegtrek, Sandra en Tiaan in die kar en Leonard in die kattebak. Tiaan besef hy moet so gou moontlik daar wegkom, voor “die Majoor” en sy trawante opdaag. Om een man te oorrompel is kinderspeletjies, maar om vier of vyf aan te vat is soek vir moeilikheid, sonder om daarvoor te vra. Tiaan kyk na Sandra en merk iets nuuts in haar oë op - die amusante kyk het plek gemaak vir vrees. Slegs die navigasiestelsel se instruksies verbreek die stilte in die kar. Dit het baie praat en ‘n paar taai klappe gekos om Sandra so ver te kry om hom te vertel waar die bloudrukke is. “No more Mister Nice Guy!” dink hy “Sy beter hoop sy lieg nie vir my nie.” Met elke kilometer agter die rug voel hy bietjie meer gerus, nie oor hul eindbestemming nie, maar wel oor die afstand tussen die nou en die beginpunt. Maar hoe langer en stiller die pad raak, raak Tiaan eintlik net al moeriger. Sy uitsmyter en huursoldaat dae was ver weggebêre in die verlede. ‘n Tyd wat hy liewer sou wou vergeet het. En nou vat dit net een donnerse girl en hààr Majoor om die ou wonde weer oop te krap, maar “desperate times” benodig seker maar “desperate measures”. “Fok die lot, die triggerhappy spieraap is terug vir nou,” kry se gedagtes vleuels in woorde. Sandra begin weer te snik.
“Shit Leonard, waar is jy?” skree André teen die seewind waar hy teen die verlate kar leun. Jy stuur ‘n gewapende bosaap om ‘n lammetjie besig te hou tot jy opdaag, en al wat jy vind is ‘n verlate kar met geen siel in sig nie. In die los sand so 20 meter weg is daar tekens van ‘n kortstondige struweling en die bandmerke van ‘n kar wat teen hoë spoed weggetrek het. “Kom manne, laat ons wees, dit blyk my Mnr. Brink is toe nou nie so lamsakkig as wat ons gedink het nie.”
Sandra snik-snik nog met tussenposes, maar hoe nader hulle aan Kobus-hulle se plaas kom, hoe meer begin sy besef sy sal iets drasties moet doen, sodat daar nie nog mense seerkry deur haar onnoselheid nie. Al is daar nie veel liefde verlore tussen haar en Kobus en sy ryk vrou nie, het nie een van die twee haar nog ooit enige fisiese skade aangedoen nie. Kobus het ter goeder trou die dokumente vir haar in bewaring geneem. Met dié dat Tiaan nie een oomblik gehuiwer het om haar aan te rand om die inligting uit haar te kry nie, besef sy nou dat sy hom heeltemal onderskat het. Sy het destyds gerugte gehoor dat hy ‘n paar lelike geraamtes in sy kas het, maar toe het dit haar nie gepla nie, want hy was aan haar kant.
“Ek hoop nie jy is besig om enige slim plannetjies te sit en uitdink nie, Sandra.” laat Tiaan skielik hoor, asof hy haar gedagtes kon lees. “As jy die aap in die kattebak wil lewendig hou, gaan jy nou dadelik daai mooi gesiggie van jou regtrek en ophou tjank. En begin lyk soos ‘n gelukkige girl wat haar verloofde kom afshow by haar eks, terwyl sy haar dokumente kom haal. Jy weet, die dokumente wat ons tweetjies nodig het vir ons voorhuwelikse kontrak en so aan.” Tiaan gee ‘n wrede laggie en Sandra wonder hoekom sy nog nooit in al die tyd wat hulle saam is, agtergekom het hy het ‘n sadistiese streep in hom nie.
Het sy so verslaaf geraak aan die geldgod, dat sy heeltemal verleer het om die mens agter die geld raak te sien? Dalk sal dit haar verdiende loon wees as hy haar vandag hier doodskiet, maar sy weet sy gaan nie so maklik daarvan afkom nie. Kobus kan wees wat hy wil, maar hy kan skaars ‘n vlieg doodslaan. Hy sal geen match wees vir Tiaan nie. Sy kan ook nie hoop André spoor hulle betyds op nie, want al weet hy van Kobus en die plaas, het sy hom nooit presies vertel waar die plaas is nie. Toe Tiaan die BMW afdraai op die grondpad, besef Sandra sy is op haar eie en sy sal moet doen wat Tiaan verwag en sorg dat niemand verder seerkry nie.
Met gunsies in die verlede het Andrè deur die jare al ‘n hewige “Jy skuld my een” lysie opgebou. ‘n Oproep later is ‘n helikopter oppad. Andrè glimlag met die gedagte dat dit baie voordelig in sy lyn van werk is om toegang tot elke tegnologiese speelding denkbaar te hê. Hy skakel die opsporingstoestel aan en kyk met ‘n skewe glimlag na die flikkerende rooi liggie op die skerm. Nie een van sy manne is eers bewus van die mikroskyfies wat in hulle horlosies geplant is nie. Beplanning is een ding wat hy nie ligtelik opvat nie, en jou horlosie altyd aan jou arm is een van sy strengste reëls. “Goeie en getroue slaaf Leonard” sê hy hardop met die eerste klank van die naderende helikopter in sy ore. Op die horison kan hy die naderende spikkel sien groei. Hy bulder ‘n paar bevele en kry 3 van sy beste ouens gereed vir die vlug. Die ander sal in die karre volg en dien as latere versterking. Nadat hy die groepie om hom die Leviete voorgelees het oor wild-en-wakker geskietery, is hulle 15 minute later in die lug. Andrè fluit ‘n deuntjie in sy kop, maar kan net nie op die naam van die lied kom nie. “Marais, jy’s is mos so ‘n wafferse musiekkenner, watter song is hierdie?” vra hy die man langs hom, voordat hy die deuntjie fluit. Skaars ‘n minuut later hoor jy die groep mans uit volle bors saamsing bo die geraas van die helikopterskroewe. “I’m going down, in a blaze of glory!” “Op die noot of nie maak nie saak nie,” dink Andrè, terwyl hy sien hoe die ouens meer ontspanne raak. Hy ken nog steeds elke truuk in die boek. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die rooi liggie nou op een plek flikker, en hy skat rofweg dat hulle ETA daar so oor 15 minute sal wees.
Intussen sit Sandra en Tiaan op die wye stoep van die plaashuis. Die stilte hang in die warm lug. Kobus het sy pyp aangesteek en sit en wonder oor hierdie man wat Sandra gaan trou. “Daai kyk in sy oë,” dink hy “dit is nie liefde nie, dit is iets anders en ek kan nie my vinger daarop plaas nie.” “Ek het vir ons koffie bestel, Karen sal nou met ons wees,” sê hy half ingedagte om die stilte te breek. “Ek het sommer die skinkbord by Miena gevat” hoor Tiaan ‘n stem van die deur se kant af kom, en toe hy in daardie rigting kyk is dit asof ‘n opstopper hom onder die ken tref. Hier reg voor hom, op ‘n plaas in die middel van nêrens staan Karen Viljoen met ‘n skinkbord in die hande, sy geheime vennoot in die Dubai transaksies. Skok van erkenning is ge-ets op albei se gesigte. Vraagtekens in die oë van Sandra en Kobus. Tyd vir verduideliking is daar nie, want Kobus se frons verdiep as hy opkyk in die rigting van die klank van ‘n naderende helikopter.
“Karen, verwag ons die nuwe groep wat kom jag dan nie eers more nie?” vra Kobus, terwyl hy opstaan en na die rand van die stoep toe loop en probeer kyk uit watter rigting die helikopter kom. Karen staan nog versteen met die skinkbord in haar hande, maar Tiaan het reeds opgespring en ook na die stoep se rand beweeg. “Dis nie die oord se helikopter nie…,” begin Kobus, terwyl hy omdraai, reg in die loop van Tiaan se wapen vas. “Jammer, my ou, maar dit lyk my jou eks is nog belangriker vir party mense as wat ek gereken het. Toe toe, roer julle - in die huis in! Toe nou, Karen-lief, as jy langer daai skinkbord vasklou, gaan dit aan jou hande vasgroei!”
“Wat de hel…,” begin Kobus, maar word stilgemaak deur ‘n dwarsklap van Tiaan af. “Hou jou bek! Van nou af praat ek en julle luister. In die huis in! Beweeg!”
Karen staan nog met die skinkbord. Sy, meer as enige een van hulle, weet hoe gevaarlik hierdie man is en sy weet dat sy net een kans sal hê om hulle uit hierdie gemors te kry. Sy het ‘n idee dat die dokumente in die kluis meer beteken as wat Sandra voorgegee het, maar sy het nie nou tyd om daaroor te bespiegel nie. In een beweging laat sy die skinkbord val, gryp die pot kookwater, draai om en slinger dit na Tiaan toe. Die kookwater tref Tiaan egter net skrams oor sy gesig en nek en hy skree soos ‘n gewonde dier. “Jou fokkin feeks!” En met die ruk hy die pistool op en skiet Kobus summier in die maag. “Ek maak julle almal vrek hier vandag.” Hy gryp Karen aan die hare en sleep haar in die huis in, terwyl Sandra soos Lot se vrou na Kobus op die sementvloer staan en staar.
“Kom die huis in Sandra, die ongelooflike-oorlewing-van-die-eks-wonderwerk gebeur net een keer op ‘n dag. En jou Majoortjie was gelukkig om die strooitjie te trek! Kobus queue al by die hemelpoorte.”, hoor Sandra vaagweg as sy hardhandig die huis ingepluk word en soos ‘n stuk lap langs Karen op die rusbank neergegooi word. Karen is bleek asof sy spoke gesien het. Trane loop stil oor haar wange terwyl sy na Kobus se lyk net buite die voordeur staar. “Wat ‘n moerse gemors” hoor hulle Tiaan sê waar hy heen en weer oor die persiese tapyt loop, “‘n Gemors van moerawiese fokken proporsies!” En juis nou wanneer Tiaan ‘n snelvinnige prosesseerder breinspoed nodig het, voel sy brein soos ‘n baba wat krale op ‘n telraam rondskuif. Gedagtes wil net nie orden nie. Hy hoor nie meer die helikopter nie, wat beteken hulle het geland en is besig om hulle planne in werking te stel. Hulle natuurlik meer as een persoon en tot die tande toe gewapen. “Fok!” Hy loer na die twee vrouens en weet hy kan geen hulp van hulle verwag nie, selfs al het hy ‘n wapenarsenaal in hierdie huis gehad. Gelukkig vir hom blyk dit dat die Majoor ‘n sagte plekkie vir Sandra het, dus sal hulle sekerlik nie net links en regs op die huis losbrand nie? ‘n Klein vlammetjie hoop wat vir hom absoluut boggerol op hierdie oomblik beteken. Hulle sê Dood is jou konstante metgesel, hy wag nie vir ‘n uitnodiging na die teepartyjie toe nie. Met sy, wat voel soos die honderdste draai aan die onderpunt van die mat, merk Tiaan vir die eerste keer die jaggewere op die eetkamertafel. Kobus was seker besig om hulle gereed te kry vir die jaggroep. ‘n Plan formuleer stadig in sy kop. Hy moet net wegbly voor die deure en vensters en hoop sy skerpskutter vernuf het nie verroes nie. Sy lag weerklink deur die stil plaashuis. “Dood, jy moet nog so bietjie aanhang. Ons gaan eers bietjie party hou.”
Uit die hoek van sy oog sien Tiaan Karen stadig opstaan. Hy swaai die pistool vinnig om in haar rigting, maar sien sy het altwee haar hande voor haar uitgestrek, asof in ‘n vredesgebaar. “Dis onnodig, Tiaan, ek gaan niks stupids probeer nie.” sê sy stil, terwyl sy versigtig die trane wegvee. “Ek en jy ken mekaar van lankal af en jy weet my lewensmotto is om die dinge te verander wat ek kan, en te aanvaar wat ek nie kan verander nie. Kobus is dood en dis jammer, want op my manier was ek lief vir hom, maar ek lewe en jy lewe en duidelik is jy hier vir ‘n baie goeie rede. Ek het nog nooit veel tyd vir haar gehad nie,” spoeg Karen dit half minagtend uit in die verdwaasde Sandra se rigting, “so, ek is bereid om jou te help om uit hierdie gemors te kom. Teen ‘n prys natuurlik. En ek het ‘n plan hoe om die Majoor te uitoorlê.” Tiaan besef dat hy veel verder sal kom met haar hulp, al vertrou hy haar nie honderd persent nie, maar as hy eers die bloudrukke het en van hierdie gemors af weggekom het, sal sy alleen baie makliker wees om te hanteer as die Majoor en sy spul bos-ape daar buite. “Goed, Karen, ek luister. Maar moenie vir een oomblik dink dat ek jou vertrou nie. Help my om hier uit te kom, en ek en jy is steeds vennote, ook wat hierdie rondte betref. Een verkeerde beweging van jou, en jy sluit by Kobus aan. Laat ek hoor of jou plan kan aansluit by myne.”
Tiaan luister aandagtig terwyl Karen haar plan vir hom uiteensit en hy moet aan homself erken dat hy die girl nog altyd onderskat het. Saam kan hulle dit dalk net regkry om die oormag daarbuite ore aan te sit.
Tien minute later, met die bloudrukke onder die arm en Tiaan en Karen tot die ore toe gewapen, lei Karen hulle met ‘n ondergrondse tonnel na ‘n uitkykpunt bokant ‘n watergat, so 200 meter van die huis af. Daar is ‘n kous in Sandra se mond gestop om enige skielike hulpgille te keer. So drafstap die drie, Karen voor, Sandra in die middel en Tiaan in die agterhoede, met sy pistool in Sandra se rug deur die grafstil tonnel. ‘n Koel briesie waai van voor af en met ‘n sug van verligting besef Tiaan dat hy net dalkies vir Karen kan vertrou. Dit is darem nie ‘n doodloop-lokval nie. Die uitkykpunt bo die watergat is gebou in die vorm van ‘n kliplapa, met ‘n groot opening voor wat uitkyk op die watergat, en twee kleiner vensters aan die agterkant. Twee venster met ‘n perfekte uitsig op die huis en die werf. Van hier kan Tiaan die helikopter, die Majoor èn sy manne sien waar hulle agter heinings en muurtjies die huis dophou. “Poepholle,” dink Tiaan by homself,”soos sitting ducks”. Karen het Sandra aan ‘n paal in die hoek vasgebind en neem nou plaas voor die ander venster. Hulle moet nou die finale stappe in die plan bespreek. Watter van die gorillas sal gou en veilig met skerpskut uitgevat kan word voor hulle besef die geweervuur kom nie uit die huis nie? Definitief twee, miskien drie as hulle gelukkig is? Daarna sal die uitkykpunt dien as ‘n fort wat definitief die voordeel aan hulle gaan verleen. Blykbaar wil Karen mooi saamspeel. Met handgebare word die eerste twee teikens uitgekies. Tiaan voel net ‘n klein tikkie teleurstelling dat Andrè nie een van die eerste twee is nie. Met stadige doelgerigte bewegings plaas hulle die jaggewere in die vensterbanke, wat ook as stut sal dien om die effense senuweeagtige gebewe te beheer. Beide Tiaan en Karen vind hulle onderskeie teikens in die teleskope. Drie, Twee, Een dui Tiaan met sy vingers in die lug aan. Diep asemteug en vuur. Die twee mans se koppe ontplof byna gelyk en hulle dooie liggame slaan agteroor. Tiaan en Karen wil nog mik vir ‘n tweede skoot, maar die oorblywende ouens is te goed opgelei en is binne ‘n oogwink uit sig uit. Deel 1 van die plan was egter geslaagd, en die 5 teen 2 voordeel is nou verminder na 3 teen 2. ‘n Baie beter kans uit enige weddenskap se oogpunt.
Dit het Leonard omtrent bloedsweet gekos om homself los te woel. Selfs nog gedurende sy opleiding was daar nie sommer ‘n tou of knoop wat hom kon weerstaan nie, maar dié Tiaan ou ken verdomp van knope maak. Die laaste twee geweerskote was egter die laaste strooi en hy het met al sy krag die laaste knoop losgewoel gekry. Sy hande is rou, sy vingers is dood en hy het geen idee wat buite aangaan en wie aan die wenkant is nie. Duidelik het almal van hom vergeet en dit kan dalk net in sy guns tel. Hy het ook die helikopter gehoor en hy is amper doodseker dat dit André en die manne is. Maar nou is daar doodse stilte, na die skote, en dit voorspel niks goeds nie. Hy klik die kattebak van binne oop en loer eers net deur ‘n skreef. Die motor is egter ‘n ent weg van die huis, half onder ‘n boom, ingetrek en hy besef dat Tiaan dit met opset daar parkeer het, weg van die huismense se oë en ore af. Van hier kan hy nie veel sien nie, maar dit gee hom ook die voordeel dat hy kan uitglip sonder dat enigiemand hom sien. Sy uitklim, die kattebak weer toedruk en grondlangs kruip tot by die voorste wiel, is so te sê een beweging. Hy voel hoe sy kop gaan stilstaan toe hy vir Basson skaars tien treë van hom af sien lê, en dis nie ‘n mooi prentjie nie. Die volgende oomblik vang iets blinks heelwat hoër op, sy oog. Hy hou amper op met asemhaal terwyl hy stip in daardie rigting staar. Daar is dit weer! En hierdie keer besef hy waarna hy kyk. Dis die son wat op ‘n geweerloop blink. Hy is amper doodseker dat nie André of een van die ander ouens so “sloppy” sal wees nie, dus beteken dit net een ding - Tiaan is nog op vrye voet en iewers het hy ‘n geweer in die hande gekry, heelwaarskynlik ‘n jaggeweer met ‘n teleskoop. Die vraag is nou, wie van die huismense en Sandra lewe nog? En hoe het die bliksem daar bo gekom? Sal hy dit waag om na die huis toe te hardloop? Hy oorweeg nog sy opsies, toe hy sien hoe André se kop oor die stoepmuurtjie kom.
Andrè beduie hy moet Basson se geweer gryp en na die stoep toe kom. Tyd vir heroorweging. Tiaan merk die beweging agter die kar op. “Shit, Leonard het losgekom” fluister hy, “en dit lyk of hy ons skuilplek gespot het.” Tiaan vind ‘n merk net regs van die kar in sy teleskoop, en beduie vir Karen om dieselfde te doen. As Leonard uitgeweeg sal dit hopelik voor een van diè punte inwees. Leonard haal diep asem en spring weg in die rigting van Basson, gryp die geweer en nael na die stoep toe. Die skielike verandering van rigting het Tiaan en Karen onkant gevang, en hulle skote slaan in die stof vas. “Fokkit, ek is bly om jou te sien!” sê Andrè aan Leonard, “die Brink mannetjie is definitief meer uitgeslape as wat ons gedink het. Hy laat ons soos amateurs lyk.” “Ons moet uitvind hoe hulle daar gekom het. Daar moet ‘n tonnel uit die huis wees, want hulle het definitief nie van buite af daar gekom nie.” Die Majoor en sy manne is besig om die huis te fynkam, en Tiaan besef dat hulle binnekort die deur by die ingang van die tonnel gaan vind. Net ‘n kwessie van tyd, en seker nie baie daarvan nie. “Ons moet hier wegkom”, sê hy aan Karen ” hulle gaan daai deur kry en dan sit ons soos lammers ter slagting hier en wag.” “Ons kan met die leer afklim en maak dat ons wegkom. Ons sal dit seker tot by jou kar kan maak?” kom dit van Karen se kant af. “En hulle het ‘n helikopter waarmee ons uit die lug gejag kan word, nee” kom dit met ‘n tikkie sarkasme van Tiaan af “ek dink ons moet by die helikopter uitkom.” Tiaan probeer sy gedagtes orden. Miskien moet hulle hier bly, die spot bied nog steeds die voordeel aan hulle. As Andrè en sy manne deur die luik van die tonnel af probeer inkom kan hulle maklik afgemaai word. As hy tog maar net geweet het hoe die man dink! Dit is toe dat Tiaan die 4 mans uit die huis gehardloop sien kom. So asof die duiwel agter hulle aan is. Sekondes daarna knal ‘n geweldige ontploffing oor die stil vlaktes, en stukke plaashuis hang in die lug oor die werf. “Wel, die vraag oor die tonnel is beantwoord ” dink hy hardop.
(word vervolg…)














April 21st, 2009 at 7:51 pm
Geez, ek hoop julle hou nooit op nie! Dit kan sowaar ‘n hele boek word. I have links…
April 22nd, 2009 at 6:59 am
Uitstekend!
Ek wag in spanning vir die res…
April 23rd, 2009 at 2:01 pm
April 28th, 2009 at 1:44 pm
kug…kug… ek weet ek het bietjie afgevat…