Ek het die woord die eerste keer by my pa gehoor. Tot vandag sien ek ‘n wit graf eensaam eenkant in die veld staan. Hoekom presies daardie beeld, weet ek nie. Ek het die betekenis van die woord eers later begryp.
Ons wil almal glo ons is goeie mense, ons lewe goeie lewens, ons is nie soos hierdie ou of daardie vrou wat afgedwaal het van die gebaande weë nie. Ons klop onsself op die skouer en ons gee onsself punte omdat ons so oulik is.
Wel, dit maak my fokken siek! En ek vra ook nie verskoning vir die kras woord nie.
Wat maak een mens beter as ‘n ander? Wat maak my moraliteit reg en joune verkeerd? Wie gee enigeen van ons die reg om ‘n oordeel oor ‘n ander uit te spreek of selfs net te dink? Het jy selfs net een myl geloop in die skoene van daardie persoon waaroor jy nou agter jou hand fluister?
Ons word elkeen ‘n hand in die lewe gedeel en ja, elkeen het ‘n verantwoordelikheid teenoor homself om die beste te wees wat hy kan wees en om ‘n deugsame plek in die samelewing vol te staan. Maar somtyds, net somtyds, het die dobbelsteen wat vir ons geskommel is, verkeerd geval. Of op ‘n een en nie op ‘n ses nie.
Natuurlik is daar mense aan wie daar nooit salf te smeer sal wees nie, maar selfs met hulle kom die oordeel jou en my nie toe nie.
Ons trek so maklik ons neuse op vir sekere mense, in sekere omstandighede. Het jy al ooit regtig probeer om net EEN van daardie mense beter te leer ken? Om te vra hoekom en hoe het daardie persoon op daardie afdraaipad beland, wat dalk vir hom of haar glad nie eers ‘n afdraaipad is nie, maar sy gebaande lewenspad, soos dit bestem is. Jou pad en jou kaart is nie almal s’n nie.
Dink jy… alle mense wat in die tronk is, is sleg? Het jy al ooit ‘n geliefde in ‘n tronk besoek? Het jy al ooit deur ‘n glasvenster gesien hoe lyk opregte berou, sonder dat jy kan vashou en troos? Het jy al ooit nagte lank in jou drome gehoor hoe knars sleutels in slotte, terwyl jy al hoe verder weggelei word, terwyl jy teruggaan na vryheid en ‘n stukkie van jouself agterlaat? As jy nie het nie, moenie jouself aanmatig om oordele uit te spreek nie. Jy ken net ten dele.
Dink jy… die man wat sy op-die-oog-af-goeie vrou los vir ‘n ander vrou, is ‘n vark? Het jy onder dieselfde dak gebly as hy? Het jy al ooit saam met ‘n vrou gebly wat jou leegsuig soos ‘n parasiet. Een wat glo die man is net op aarde gesit om vir haar te sorg en sorg sal hy sorg, al kos dit sy laaste druppel bloed. Een wat glo dat haar liggaam en gunste ‘n prys het en dat haar man, haar wettige man, daardie prys moet betaal en aanhou betaal. As jy nog nie so gelewe het nie, moenie jou verbeel jy is beter as daardie man nie. Jy ken net ten dele.
Dink jy… die vrou wat wegloop van haar man wat haar oënskynlik so liefhet, is sleg? Weet jy wat in hulle lewe aangaan agter geslote deure? Weet jy of hy haar mishandel - fisies of emosioneel? Weet jy of hy goed vir haar sorg? Die skyn bedrieg, so moenie dink dit wat jy sien is noodwendig hoe dit is nie. Jy het nie die reg om te oordeel nie, want jy sien net ten dele.
Ons is almal skuldig. Ons oordeel, maar bewaar diegene wat dit sou waag om ons te oordeel. Sommige van ons noem onsself oopkop, solank daardie oopkop wees net nie aan eie geledere vat nie. Kyk hoe oulik is ons, kyk hoe liberaal, kyk hoe filantropies - maar o hel, wee die een wat ons grense kom verskuif en hierdie naasteliefde wat ons so luidkeels verkondig REGTIG tot die uiterste kom toets.
Ons drink sosiaal, maar ons trek ons neus op vir alkoholiste. En bedank nou net ‘n drankie waar ‘n klomp mense saam kuier en sien die reaksie.
Apartheid is ‘n vloekwoord en nie een van ons was, volgens alle aanduidings, ooit skuldig daaraan of ten gunste daarvan nie, maar laat jou eie seun of dogter more by die huis aankom met ‘n donkerder geliefde. Gaan jy dan nog so anti-apartheid wees?
Ons skree gelyke regte vir almal en gun gays ook ‘n plek in die son, maar bewaar jou beste vriend of vriendin as hulle dalk more besluit hul liefde lê by iemand van dieselfde geslag. Hoe lank gaan dit nog jou beste vriend / vriendin bly? Of gaan jy jou neus agter jou eie geslote deur optrek en dink jy is darem nie so groot gemaak nie, so jy het die reg om te oordeel.
Witgepleisterde graf - dis wat jy is. Oënskynlik op die oog af mooi, maar onder die laag wit pleister, lê die stank van die dood. Die dood van jou medemenslikheid.
Ek dink al vir ‘n ruk hieroor. Ek het vandag besluit. Dis my voorneme vir die lewe vorentoe - ek gaan probeer om nooit weer iemand te oordeel nie, want ek lewe nie daardie persoon se lewe nie. Laat die Lewe oordeel - dit kom my nie toe nie.
En ek wil sover moontlik ook nie meer mense ken wat sommer so maklik oordele oor ander uitspreek nie. Wees wie en wat jy wil wees, oordeel soos wat jy wil oordeel, maar vergeet dan my naam, vergeet dan my bestaan. In my lewe is daar net plek vir mense met opregte medemenslikheid, nie meer vir witgepleisterde grafte nie. Nooit meer vir witgepleisterde grafte nie. Die lewe is te kort.














June 13th, 2009 at 5:47 am
Hoor hoor!
June 13th, 2009 at 3:45 pm
Baie goed gese, Sonkind! Puik inskrywing! Te veel mense dink hulle is beter as ander en te veel oordeel te gou.
June 13th, 2009 at 5:35 pm
Dis ‘n baie goeie inskrywing hierdie. Ek moet myself ook nou en dan keer as ek iets oor iemand wil dink. Dis moeilik, dis elke dag se besluit en harde werk, want dis makliker om oordeel te fel, om beter oor jouself te voel, om sommer jou eie moraliteit op iemand anders van toepassing te maak. Die lewe werk nie eintlik so nie. As meer mense dit net wil besef.
June 13th, 2009 at 9:54 pm
We all have but only our own opinions. Isn’t judging other people judging other people also judgment? There simply is no end to it. Net nog ‘n opinie: maybe is die true art juis om ander met hul oordeel oor jou/my/ander te aanvaar tot die mate dat jy die oordeel vergewe nog voor dit gefel is.
Maar nou en dan is dit bevrydend om net alles en almal te bevraagteken en spasie vir jouself te skep, just because you are a living breathing soul!
Ek geniet jou website en denke steeds terdee.
Vriendelik
Lambert
June 13th, 2009 at 10:34 pm
Bravo!
Ek het nog altyd gese moet my nie judge voor jy ‘n myl in my stilleto;s geloop het nie…..
June 14th, 2009 at 7:21 pm
Is my personal motto in life: “There, but for the Grace of God, go I”.
Be blessed, Sons x
June 14th, 2009 at 9:37 pm
NetJane, inderdaad - As meer mense dit net wil besef.
nikita - Die “dink” deel is juis wat nie gedoen word wanneer mense oordeel nie.
Lambert - Jy het beslis jou filosofiese graad met lof geslaag. Lol!
Girl - Daai is wat ek ook mos se
- Mens kan dink wat hy/sy wil maar hou die tong vas voordat jy net jou opinie uitspreek, sou ek se.
June 15th, 2009 at 8:19 am
Ek kon dit self nie beter gestel het nie!
Wie is ek nou in elk geval om te oordeel? Jy sal geoordeel word soos jy oordeel! Ek probeer altyd eers dink oor ‘n saak en soos jy se, mens kan dink wat jy wil, maar as jy nie die situasie ken waarin daardie persoon hom of haar bevind nie, hou jou bek en gedagtes vir jouself! Ek glo almal verdien dieselfde kans en ek het al my gat baie kere so gesien, maar dis nou maar hoe ek is!
June 15th, 2009 at 9:49 am
Dankie Sonkind……
‘n Mens kan nie dink hoe bang iemand kan wees vir hierdie oordeel nie. Ek weet, want iemand is nou op die oomblik daar, flippen bang vir hierdie oordeel!
June 15th, 2009 at 2:47 pm
Jis Basil, om met stilleto’s oor die klippertjies in die grondpad te stap is nie ‘n grap nie hoor
Net gisteraand in my mooi swart boek gelees (Romeine 12:19)En hierdie is in elkgeval die enigste oordeel wat saak maak….
Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.
June 16th, 2009 at 9:09 am
Dit vat besondere genade om oombliklik nie te oordeel nie.
Die vermoë om te kategoriseer is ‘n oerinstink wat mense help besluit of iets of iemand gevaarlik is, eetbaar is ens. Mense kan dadelik iemand uitken wat anders as hulle is bv ‘n boemelaar, ‘n gestremde of iemand wat erg oorgewig is. Dis dan wat “the eye of the beholder” verskynsel inskop. Die persoon wat homself nie kan indink in die lewe van ‘n boemelaar nie, wat nog nooit met ‘n gestremde ‘n persoonlike verhouding gehad het nie of wat nog nooit self gesukkel het om kilos af te skud nie, sal oordeel. Soms oordeel mense aanvanklik, maar kry die genade om te probeer verstaan. En later word hulle soms die mense wat juis die sterkste ondersteuners word.
Die mense wat nie eers ‘n poging aanwend om te probeer verstaan nie of “verstaan” uit ‘n posisie van meerderwaardigheid, is die witgepleisterde grafte. Die lewe werk egter so dat hulle een of ander tyd in ‘n posisie gaan wees waar hulle geoordeel gaan word. Die lewe is soms ‘n merkwaardige gelykmaker.
June 17th, 2009 at 11:36 am
Dankie vir hierdie inskrywing. Dit beteken vandag vir my baie en onderskraag in diepe gevoel. Dit les sommer ook ‘n dors. Dankie!
June 17th, 2009 at 12:16 pm
Dankie, amen en dankie…… ((((Sonkind))))
June 17th, 2009 at 2:43 pm
Ons het almal maar soms ‘n taai klap nodig. Dankie. En weet jy dit is baie moeilik om nie te oordeel nie, veral nie as jy glo jy is reg nie. Maar daar is definitief nie fout met probeer nie. Eendag.
June 17th, 2009 at 4:57 pm
Ek het ‘n varsity vriendin wat ook ‘n baie sterk persoonlikheid het. Ons ken mekaar so te se deur en deur. Ons het nogal baie gedagtes uitgeruil in die tyd wat ons mekaar ken, oor alles en nog wat. Nogtans het dit haar meer as 3 ure geneem om my te vertel dat sy begin rook het. Juis omdat sy bang was vir my reaksie. Dit is iemand wat haar nie aan mense se menings steur nie.
Ja, ek is BAIE bevooroordeeld en ek is BAIE opinionated. Dit is een van die goed wat beteken dat mense altyd weet waar hulle staan. Daar is geen verskonings daarvoor nie, ek weet. My vriendinne weet ook dat ek hulle gewoontlik presies vertel wat ek van iets dink. Dit beteken dat ek nie baie hoog op die lys is wanneer hulle simpatie soek nie.
Ek het wel met die verloop van jare geleer, dat ander mense nie noodwendig dieselfde “waardes” as ek het nie. Ek luister na ander se opinies sonder om hulle na my opinie te probeer oorhaal.
My waarde as ‘n vriendin le^ in die ondersteuning wat ek bied. Ek sal dink jy is mal, verkeerd of wat ookal, maar ek sal jou nie hulp weier as ek kan help nie. Ek sal daar wees wanneer die paw-paw die fan strike. Jy sal seker een keer hoor dat ek jou gese^ het, maar ek sal help om die stukke op te tel. Sonder om die heeltyd sout in die wonde te vryf.
Om terug te kom na Sonkind se voorbeelde. Ek laat my gewoonlik nie uit oor ander mense se verhoudings nie, tensy daar mishandeling is. Dan sal ek alles denkbaar doen om my kennis daar uit te probeer kry. Ek was al 3 keer in die tronk gewees - vir projekte. Dit pla my nie. Ek sal verseker iemand wat ek ken in die tronk besoek - skuldig of onskuldig. Ek het nie ‘n vriendskap verbreek toe ek uitgevind het ‘n goeie kennis is gay nie. Ek bespreek ook nie haar seksuele voorkeure met mense nie en probeer haar nie verander nie.
My reaksie op my vriendin se rokery was om my skouers op te haal en te wonder wat die groot drama daaroor is. Dit is immers haar longe. Glo my, van tyd tot tyd terg ek haar genadeloos daaroor, maar ek weet en sy weet dit is nie vir my ‘n issue nie.
Dit lyk nou asof ek my vooroordeel probeer verdedig. Dalk doen ek - wetende dat daar nie regtig ‘n verskoning is nie. Ek kan egter nie skynheilige mense hanteer nie. As ek reguit omtrent iets gevra word, gaan ek reguit antwoord. Ek vertel mense nie wat hulle wil hoor nie.
June 20th, 2009 at 11:14 am
Wanneer is dit oordeel?
As ek sien jy doen iets wat jou gaan benadeel en ek praat met jou daaroor - het ek geoordeel?
Wonder maar net….
Ek stem baie definitief saam, dat om summier te oordeel net op grond van sigwaarde is bitterlik gevaarlik. Ons sien ten dele - en trap ten volle ‘n stel af!
June 25th, 2009 at 8:48 am
Randomly toe ek vanoggend by die werk kom sit, toe dink ek aan daai “Here lies whathisname but for the grace of God.” En toe maak ek jou blog oop.
Maar ek kon nie help om ook te dink jy judge judgmental mense nogal hard nie. Weet jy hoekom hulle so judgmental is? Het jy ‘n myl in hulle skoene geloop en gesien hoekom hulle voel hulle nodighet om hulle wêreldjie so wit en swart te beskou?
En hoeveel beter is jy as hulle as jy “dink wat jy wil” maar dit net nie sê nie? Jy versprei dalk nie jou oordeel nie, maar dit bly in jou hart.
June 25th, 2009 at 9:05 am
‘n paar confessions:
ek judge boring mense. mense wat nie verder as hulle neuse dink nie; dieselfde opinies as almal rondom hulle het; dieselfde aspirasies as die mense langs hulle het. dis vir my ‘n groot uitdaging om op te hou dit doen!
huisvrou, ek het huisvrouens vir jare lank gejudge (of jammergekry, of albei) en is baie bly ek het nou eers, met ‘n bietjie meer oopkop, jou blog begin lees.
ek judge rassiste; ek skryf hulle byna as mense af sodra ek haatspraak uit hulle monde hoor.
‘n ou wat enigsins sy selfvertroue uit drank kry, word met pikswart koki van my lysie moontlikhede af gekrap. snowball’s hope in hell, baby. ek kan nie verstaan hoekom hulle byna “brag” met hierdie afhanklikheid nie… jy’s nie hard-core nie, jy’s lafhartig!!
meisies wat in abusive verhoudings is, was vir my so onverstaanbaar dat ek skaars met hulle kon vriende wees… tot onlangs. (en nou, Girl, gaan my hart al hoe meer vir hulle oop!) om nie te praat van ouens wat hulle meisies/vroue mishandel nie.
ek judge ook mense wat kamstig verskriklik open-minded is - aggg do whatever you feel is right baby; whatever works for you - maar as jy mooi na hulle lewens kyk het hulle eintlik nie ‘n ruggraat in die dinge wat saakmaak nie. so open-minded soos ‘n jellievis wil ek nooit self wees nie.
ek judge ook mense wat werk of studeer net vir geld.
June 25th, 2009 at 1:04 pm
Ouch Cara! Jy is reg - I stand corrected. Ek neem jou kommentaar ernstig op en jy het my nou iets gegee om oor introspeksie te gaan doen.
June 25th, 2009 at 1:06 pm
annderster - ek moet erken ek het ‘n smile gekry vir jou kommentaar. Party van daai wat jy genoem het, maak nogal my tande ook stomp. Na Cara se raps, besef ek dat ons seker maar almal iemand judge op een of ander manier. Dalk moet ons net probeer om meer die ander ou se kant in te sien en minder ons eie. Tough job!
June 26th, 2009 at 12:19 pm
Sjoe Sonkind, ek was kwaai met jou. Ek waardeer jou nederigheid. Ek gee ook nie voor ek judge niemand nie.
Annderster, jou lysie het my ook ‘n bietjie laat dink! En onthou van die proses waardeur ekself op die oomblik gaan… check bietjie hierdie blog uit oor daai huisvrou-ding… http://bravenboer.wordpress.co.....-blogpost/
June 26th, 2009 at 4:53 pm
“… dieselfde opinies as almal rondom hulle het; dieselfde aspirasies as die mense langs hulle het.”
Yes, forge new pathways in your brain. That’s what got us to where we are now.