Na ek jou verlede week gebel het met jou verjaarsdag, loop die onthou weer kort-kort my kop vol. Dalk sal ek eendag hierdie brief vir jou stuur, in ‘n regte koevert met ‘n posseël op, want ek weet die kanse is bitter skraal dat jy ooit hier gaan kom lees. Jy het nie veel erg aan die moderne tegnologie nie en ek weet dat selfs e-mail vir jou nog half Grieks is.
Besef jy dat ons mekaar slegs ‘n skrale ses jaar van ons lewens NIE geken het nie? Ek onthou nog soos gister daardie eerste dag in Sub A - jy het twee sulke stywe wegstaan vlegseltjies gehad en jou arm was in gips. Omdat jy uit ’n boom geval het en dit gebreek het. Daai dag al het ek gedink jy is net die maatjie vir my, lekker waaghalsig. Maar al het ek daarna ook hoe hard probeer, geen val uit geen boom uit kon dit nog ooit regkry om my arm ook te breek nie. Seker maar al daardie plaasmelk wat ons ingejaag is.
Dit is nog steeds vir my vreemd dat ons twee soos Dawid en Jonathan grootgeword het, terwyl ons eintlik so verskillend is soos dag en nag. Ek dink ook vir baie van die grootmense was ons twee se verknogtheid aan mekaar ‘n totale enigma.
Onthou jy nog hoe ‘n oor loop na mekaar se huise op ‘n Vrydagmiddag vir ‘n middag se speel aangehou het tot Sondagoggend voor kerk? Onthou jy hoe stout was ons partykeer in die kerk? Ek onthou hoe ek jou altyd beny het omdat jou pa en ma jou nooit pak gegee het nie, maar ek was ook bly my pa en ma was nie so oud soos joune nie.
Ek is jammer jy was so kwaad vir my die dag toe jy uitvind jy is ‘n aangenome kind en dat ek dit al die tyd geweet het. Maar dis iets wat ek by die grootmense gehoor het toe ek nie moes geluister het nie en dit was nie my geheim om oor te vertel nie. Daarom het ek stilgebly, maar aan my het dit nooit saak gemaak nie. Jy was so goed as my suster, maak nie saak wie jou regte ma of pa was nie.
Onthou jy hoe ons getjank het toe ons na verskillende skole moes gaan in die hoërskool? Want sien, dit was die ander groot verskil tussen my en jou. Jy was nie akademies aangelê nie, terwyl ek maklik geleer het en mal was oor boeke en lees. Vreemd genoeg het dit nooit enige uitwerking op ons vriendskap gehad nie. Jy het doodeenvoudig nie waarde aan my prestasies geheg nie en ek het doodeenvoudig nie omgegee dat jy nie ook boek-slim is nie. Jy was die mooi een en ek was die slim een en saam was ons ‘n “mean team”
Met een ding was ons 100% dieselfde en dit was ons hardkoppigheid. Ek wou nie vir jou luister toe jy vir my vertel ek gaan met ‘n vark trou nie en jy wou nie vir my luister toe ek vir jou vertel jy gaan met ‘n ‘d$#s’ trou nie. Toe slaan myne my blou en met jou 4de miskraam moet hulle joune by sy lover gaan uitsleep terwyl jy in die hospitaal lê. Oulike keuses wat ons gemaak het, né.
Gelukkig kon ons darem saam ons egskeidings met fanfare vier. Onthou jy nog daardie naweek?
Maar van daar af het dit vir my gelyk asof jy nie weer ‘n holte vir jou voet kon vind nie. By man nommer 3 het ek opgehou tel en ons het uit mekaar begin dryf.
Uiteindelik het ‘n simpel misverstand 10 lange jare se stilte tussen ons gebring. Ek het nie geweet jy het jou biologiese ma gaan soek en haar uiteindelik gevind - in Wespark begraafplaas - nie. Sy is dood ‘n skrale ses weke voordat jy haar opgespoor het. Dit moes vir jou bitter erg gewees het. Ek het nooit geweet jy het ‘n halfbroer en -suster leer ken nie. Ek het nie geweet dat jy verbete moes baklei om jou pleegdogters te behou nadat jou derde man jou besteel en met niks agtergelos het nie Ek het NIKS van jou hartseer en swaarkry geweet nie en ek is so jammer ek was nooit daar om jou by te staan nie.
Toe ek jou twee jaar gelede, na ses maande se gesoek, uiteindelik weer opspoor en bel, en jy weet sommer dadelik dit is ek wat praat, het ek geweet ons was idioties om tien jaar verby te laat mors deur ‘n simpel argument.
Dis vir my sleg dat jy nou die Noorde jou huis gemaak het en ek jou so min kan sien. Tot vandag toe bly jy die enigste vriendin wat ek met my lewe sal vertrou, wat alles van my af weet, by wie ek enige iets kan sê en enige iets kan vertel en weet jy sal luister en raad gee en nooit oordeel nie, al stem jy nie saam nie. Tot vandag toe is ons geheime veilig bymekaar.
Ek is so bly jy het uiteindelik tot rus gekom saam met ‘n goeie man - al is dit nou ook daar ver - en al het jy nooit jou eie kinders gehad nie, weet ek dat jy na syne en jou pleegkinders kyk asof hulle jou eie is. Dis een van die dinge waarin jy altyd beter was as ek - ‘n beter ma. (Dis hoekom jy al die jare my kinders se peetma gebly het, selfs toe ek vir jou kwaad was.)
Selfs in ons popspeel dae het jy beter na jou poppe gekyk as ek na myne. En beter naaldwerk gedoen as ek. Onthou jy hoe moes my naaldwerkpogings altyd weggesteek word vir die inspektrise?
Ek besef dat ons deur afstand tog in ‘n mate weggegroei het van mekaar af, maar ek skryf vandag hierdie brief vir jou sodat jy kan weet dat jy altyd my suster sal wees - nie van dieselfde bloed nie, maar van die hart. Waar ek of jy ook al in hierdie wêreld sal wees, ek weet dat ons altyd DAAR sal wees vir mekaar.
Tussen my en jou lê ‘n leeftyd se onthou. Mooi loop, suster van my hart.














September 8th, 2009 at 4:56 pm
Gee net daai flippen Kleenex aan… Mooi, Son.
September 8th, 2009 at 7:23 pm
Dit is verbassend hoe bande wat as kinders gele is, hou ten spyte van alles.
Ek het T ontmoet toe ek 3 en sy 6 was. Ek kon nie juis praat nie en sy en haar boetie (5) het my goed afgeknou. Nie juis dat ek my laat boelie nie, dit het T gou-gou besef nadat ek haar gebyt het.
Haar ma het by my ma geboer. Dus het ons die eerste paar jare baie gesien. Saam gespeel, saan geeet, saam pak gekry.
Ons was nie boesemvriende nie, maar ons was maatjies (ons was in verskillende skole) tot sy hoErskool toe is. Toe het ons uitmekaar gedryf. Sy was die spreekwoordelike vrot appel en ek hoog heilig.
Sy is in st 7 uit die skool. Toe ek in st 7 was, het sy weer n poging aangewend, maar dit het skaars n week gehou. Sy is getroud toe sy 18 was en die laaste wat ek haar gesien het was n jaar later toe haar baba gebore is.
Ek het haar die jaar weer raak geloop. Sy het bedaar en het n voorbeeldige voltydse ma geword. Ek het darem al van my eiewaan verloor.
Ons is heeltemaal verskillende mense. Tog kan ons gesels dat die biesies bewe. Dit is lekker om kontak te behou, nie n plig nie.
September 8th, 2009 at 8:19 pm
WOW Sonkind, you really are one hellova woman.
Slim en ernstig wees is hot, net so by the way.
September 9th, 2009 at 5:38 am
Dis wonderlik om sulke vriendskappe te he!
September 9th, 2009 at 8:31 am
Mens moet sulke vriendskappe koester.
September 9th, 2009 at 8:36 pm
Ek dink ons almal het ‘n Nicki nodig in ons lewens… Ek het ook en en ek het vir twee jaar nie met haar gepraat nie oor die outjie van wie ek gehou het, toe vir haar gekies het… Dankie tog ek het oor myself gekom!
September 9th, 2009 at 9:07 pm
Wow dis aangrypend.
Pos die brief, voor dit te laat is. Mens weet nooit.
Die Nicki’s in ons lewens moet altyd weet hoe ons hul waardeer.
September 10th, 2009 at 8:44 am
Pos die brief, eendag mag jy jouself dalk verwyt as jy nie het nie.
Sulke vriendskappe moet gekoester word, dit kom nie gereeld op almal se pad nie.