Net meer as 2 jaar gelede, het ek HIERDIE inskrywing gedoen oor selfmoord. Ek kry nog soms mense wat daar kommentaar lewer. ‘n Dag of wat gelede het ek ‘n kommentaar gekry, wat ek gevoel het ek in geheel wil plaas, as inskrywing. Almal lees nie altyd die kommentare nie en dalk, iewers, sal hierdie woorde van Marieta aanklank vind, dalk ‘n lewe red. Selfs as dit net EEN lewe red, dan het dit ‘n doel gedien.
Ek het Marieta se toestemming gevra om haar e-pos adres ook hier bekend te maak, vir ingeval daar iemand is wat hier lees en meer wil weet of hulp wil vra. Sy het net gevra dat ek moet klem lê daarop dat sy slegs raad kan gee uit ‘n verpleegkundige oogpunt.
Hier volg haar kommentaar:
“Mense, ek werk in ‘n psigiatriese hospitaal en beleef elke dag soveel hartseer saam met my pasiënte. Ek het nie daar gaan werk net om ‘n salaris te verdien nie en ook nie om mense te oordeel nie, ek is daar om mense te help! Nie net my pasiënte nie, maar ook naasbestaandes, vriende, kollegas, werkgewers, noem maar op, almal wat nie die donker kant van die lewe so goed verstaan nie. Moenie ‘n fout maak nie, soms verstaan ek ook nie aldag so lekker nie. Wat selfmoord betref kan mens ure lank debateer. Is dit sonde of nie, wat word van die persoon / gees / siel na selfmoord, kyk hoe moet die naasbestaandes dan nou sukkel om die trauma te oorkom. Mens kan aanhou en aanhou en aanhou.
Wat baie belangrik is, is dat indien die persoon aan ‘n geestesverwante siekte ly, moet almal, of ten minste die wat die naaste is, baie goeie kennis van die betrokke siekte / probleem hê. Hulle moet ook kennis hê van die medikasie wat die persoon gebruik. Dit beteken dat indien die rooi vlaggies begin wapper (en hulle moet weet wanneer dit is) moet hulle weet wat om te doen.
Ek het al ‘n pasiëntjie gehad wat selfmoord probeer pleeg het op 7-jarige ouderdom en dan was dit nie om net aandag te trek nie, die mensie wou regtig ‘n einde maak. Gaan kyk mens dan na die hulpbronne dan was daar omtrent niks vir die persoon nie. Ja, dit klink ongeloofwaardig, maar dis die waarheid.
Suid Afrikaners loop nog met die idee rond van “ruk jouself reg, klim uit daai gat uit en kry rigting, daar’s niks met jou kop verkeerd nie”. Mense, wat ‘n groot fout!!! Dan praat ek nie eens van die verskillende kulture nie. Selfs van die pasiënte wil nie opgeneem word nie a.g.v. die stigma wat nog rondom psigiatriese inrigtings kleef.
Ons praat vandag nie meer van ‘n “psigiatriese pasiënt” nie, maar van ‘n “geestesgesondheidsgebruiker” of in Engels “mental healthcare user” en dan ook van ‘n kliënt en nie ‘n pasiënt nie.
My mening oor selfmoord hou ek vir my self a.g.v. die professionaliteit van my werk. Al wat ek wil vra vir die mense wat naby aan so ‘n persoon is, is om te glo as die persoon sê hy of sy wil selfmoord pleeg. Moenie dat julle na die tyd die vraag moet vra van “hoekom” nie, of wil vingers wys of julle self wil jammer kry oor julle nou met ‘n groot gemors sit nie. Vra dan eerder die vraag van “hoekom het ek nie geluister nie”, of “hoekom het ek dit nie geglo nie”, of “hoekom het ek nie die persoon gehelp nie”, of “hoekom het ek my rug na die persoon gekeer”.
In vandag se dae is elkeen van ons so toegewikkel in sy / haar eie kokon dat ons nie wil tyd maak vir iemand wat hulp soek nie.”
Marieta se e-pos adres: marietastap at gmail dot com














October 2nd, 2009 at 9:32 am
Ai… ja wel, partykeer kan jy niks doen om dit te verhoed nie. Al sou jy so graag wou. Niemand kan ooit verstaan hoe groot daai moedeloosheid voel wat oor jou neersak as jy sien jou pogings is nie genoeg nie.
Jy kan hoeveel uitreik en bystaan en aanhou probeer daar wees… As hulle regtig wil gaan niks wat jy doen hulle van plan laat verander nie.
October 2nd, 2009 at 1:13 pm
Sonkind ek stem 100% met die kommentaar van haar saam, nou die dag het ek ‘n blog-inskrywing gemaak “die ding oor siekte”. Ek het ten dele gesinspeel op psigiantriese siektes, maar oor alle chroniese siektes. Ek was nogal verbaas dat baie bloggers gereageer het dat mense, hulself siek dink, dit ippikonders is etc.
Enige psigiatriese sieke is ‘n siekte van die die brein weens ‘n chemiese wanbalans wat aangebring is grotendeels deur genetika. (in sommige gevalle het die breinchemie verander weens dwelmgebruik, maar dit is nie die norm nie). Dit moet behandel woord soos enige chroniese siekte, met die liefde van die betrokkenes, met omvattende terapie en met medikasie.
Die punt is, dit is behandelbaar en bestuurbaar. Ek wens net mense wil meer sensitief wees.
October 3rd, 2009 at 3:21 pm
Ek is nie ‘n kenner van depressie nie, maar ek weet dis ‘n siekte - soos enige ander. Dis vreeslik dat mense geen ondersteuning kry daarvoor by hulle naastes en dierbaarstes nie. Soos enige ander siekte is dit egter dikwels ook bitter bitter moeilik vir die naasbestaandes. Girl slaan die spyker op die kop. Ek weet van ten minste een gaval waar ‘n vrou so moeg geword het dat sy gevoel het, nou ja, skiet jouself dan maar. Hy het. Ten spyte van sy anti-depressante.
Ek is nie en sal nooit ‘n voorstander wees van konvensionele medisyne nie. Dit behoort ook nooit die enigste oplossing vir die probleem te wees nie. Omvattende terapie is egter ‘n pie in the sky. Mediese dissiplines kommunikeer nie met mekaar nie. Punt. En daarin faal hulle hulle sg.”kliente” liederlik en soms fataal. Daar moet na ‘n depressiewe persoon se dieet, lewenstyl, slaapgewoontes, geestelike oortuigings, werksomstandighede verhoudings, ander siektes, hormone, verlede ens ens gekyk word. Genetiese predisposisie behoort maar slegs een moontlikheid te wees en selfs as dit is is daar verseker “triggers” wat een persoon se predisposisie laat omsit in depressie en ‘n ander daarsonder deur die lewe laat gaan.
Die behandeling van depressie is te dikwels ‘n kwessie van probeer en tref (of nie). Net my observasies.
October 3rd, 2009 at 3:44 pm
O ja, net ‘n ander opmerking. Daar is selde professionele ondersteuning vir die familie en vriende van ‘n depressielyer. Om met hulle te kommunikeer en toe te rus om die depressielyer te help is net so belangrik as om die depressielyer te behandel.
October 4th, 2009 at 2:34 pm
As jy dink jy kan depressie reg eet/oefen/dink of met kruie regdokter soos St. John’s Wort, wat uiters gevaarlik is, Nelba dan wag daar ‘n lang lys selfmoorde agter jou, as jy die raad gee aan mense. Verkeerde raad voel ek baie sterk oor.
Hormone het NIKS met depressie te doen nie, net in die geval van post-natale depressie, en selfs dit moet met medikasie behandel word.
‘n Persoon met depresse sal nooit reg slaap sonder ingryping nie, nooit.
Depressie word veroorsaak deur ‘n chemiese wanbalans in die brein. As dit nie reggestel word nie, is dit presies wat tot selfmoord lei.
“‘Genetiese predisposisie behoort maar slegs een moontlikheid te wees en selfs as dit is is daar verseker “triggers” wat een persoon se predisposisie laat omsit in depressie en ‘n ander daarsonder deur die lewe laat gaan.” —- die statement is heeltemal verkeerd. Lees jou akademiese joernale.
October 4th, 2009 at 2:37 pm
Dit is nie waar dat daar nie professionele hulp vir familie en vriende van die depressielyer is nie. Hulle moet bloot hulself beskikbaar stel en saam na die terapeut toe gaan, maar mesne wil gewoonlik nie, hulle wil nie betrokke raak nie.
En natuurlik is daar iets soos omvattende behandeling, die psigiater en sielkundige werk saam.
Dit is wanneer mense homoepatiese konkoksies begin drink vir chroniese ernstige siektes en nie allopatiese medisyne nie, want hulle so ernstig siek raak.
October 4th, 2009 at 7:05 pm
Nee, heeltemaal so. Jy sal depressie nie regdokter met eet, oefen, dink of met kruie gebruik alleen nie. Maar jy gaan ook nie veel met medikasie alleen verrig tensy jy nie oplet na bg nie.
Rosalind, jy maak aannnames. Ek sê nêrens iemand moet hulle pille los nie. Ek noem nie eers homeopatie of naturopatie (naturopatie bv moet baie versigtig benader word, want dit het net soveel potensiele newe-effekte soos allopatie) nie.
Maar ek dink dit sal regverdiger wees teenoor Sonkind om ‘n aparte inskrywing op my blog hieroor te maak.
Dankie vir die saamgesels, al verskil ons van mekaar. Dit is ‘n belangrike onderwerp.
October 4th, 2009 at 8:40 pm
Ag wel… Ek moet sommer nou al om verskoning vra want ek raak aanvallig wanneer mense oor die topic praat… Ek verstaan daar is seker mense wat nie omgee nie… in my geval het ek regtig probeer help… ek het selfs die persoon se psigiater gekontak en die het my weg gewys. Teer puntjie die kant!
October 5th, 2009 at 5:01 pm
Ag sorry Sonkind, Sorry Girl van die Subs, sorry Nelba.
Ek trek alles terug wat ek gese het, ek sien Nelba is nou baie seergemaak en ontsteld. So is die res van die bloggers oor ‘n “gesiglose persoon se raad” en boeke kennis, en alles en nog wat.
Anyway alles wat ek se oor depressie suig ek sommer uit my duim om almal te vermaak, dit was ook nie om enige niemand raad te gee nie.
Doen net wat julle wil.
October 5th, 2009 at 5:12 pm
Rooskind, niks om oor sorry te se^ nie. Hier, op hierdie blog, kan elkeen se^ wat hy wil, bedoelende oor dit waarin hy/sy glo. Solank julle nie mekaar vloek of skel nie, anything goes. Dis my werf en ek gun elkeen sy eie opinie. Ek kan net saampraat oor depressie in die sin van dit wat ek saam met my seun beleef het.
En ek het wel beleef dat die oomblik as hy sy medikasie los, is dit nag vir hom en vir almal van ons na aan hom.
Ekself het ‘n baie lae drempel van siekte verduur, myne, sowel as ander s’n. Ek is self bitter skuldig daaraan dat ek maklik vir iemand sal se^ om homself reg te ruk. Maar ek probeer om nie so te wees nie en om dit dan ook eerder vir myself te hou en nie my opinie en geloof daaroor te veel te wyd bekend te maak nie, want ek het al geleer mens veroordeel my daaroor. Dus het ek ook geleer om nie sommer ander mense vir hulle opinies te veroordeel nie.
So moet asseblief nie kwaad wees nie, Rosa, Nelba of Girl nie. Ek is jammer ek het hierdie sensitiewe onderwerp aangeraak, maar ek het regtig gedink dalk help dit iemand anders daarbuite
October 5th, 2009 at 6:04 pm
Nee mens moet oor die dinge praat, Sonkind, maar mense is nie gereed daarvoor nie. Mense wil nie medikasie gebruik nie, om een of ander bisarre rede. Ek is egter nou klaar om gratis raad uit te deel op die blogs.
Indien mense nou verder mediese tips wil he, moet hulle maar my boek wat volgende jaar uitkom koop.
Ek weet uit ervaring as mense hul medikasie los: is dit nag, die meeste selfmoorde kom so voor.
October 5th, 2009 at 6:09 pm
Ek het gesien dat siekte/gesondheid as blogbespreking net so sensitief kan wees as godsdiens en politiek. Dis hoekom ek oor daardie topics meestal my snatertjie dig hou.
Ek wil net se, dit maak my lam as mense dadelik na pille gryp as iets fout is. Soos iemand (wat ek ken) met hipertensie nie sonder sy bloeddrukpilletjie kan leef nie…MAAR dit rook en drink en eet gemorskos en kry geen oefening nie. Probeer eers regmaak wat jy kan, wat jy WEET jy verkeerd doen.
October 5th, 2009 at 6:16 pm
Rosa… Ek moes dalk nie involved geraak het nie… Ek is toe nie so onemosioneel hieroor soos ek sou wou hoop nie. Ek weet uit eerste handse ondervinding dat die wat hulle medikasie los wel hul lewens neem.
Ek wou maar net dit tuis bring dat daar wel mense is wat tot die dood toe baklei vir die geliefdes se geestelike gesondheid en nie almal gee op op hulle nie. Juis oor ek gefaal het in my one-man poging is dit wel ‘n teer puntjie.
So jammer dan van my kant af.
October 6th, 2009 at 4:57 pm
Girl…dis wonderlik dat jy doen wat jy gedoen het, ek wens daar is meer mense wat so uitreik.
Vlam…dit is nie wat ek se nie, “omvattende terapie en met medikasie” het ek hierbo gese.
Dit is soos diabetes, jy moet jou leefstyl aan pas, maar god weet jy MOET die insulien neem.
October 7th, 2009 at 8:33 pm
Iemand sê nou die dag, dis maklik om tot by daardie afgrond te stap, maar glads anders om te spring.
December 22nd, 2009 at 7:14 pm
Ek lees op hiedie blog:-
omvattende terapie en met medikasie…
klaar om gratis raad uit te deel…
suig ek sommer uit my duim om almal te vermaak…
naturopatie bv moet baie versigtig benader word…
allopatie…
psigiater en sielkundige werk saam…
Genetiese predisposisie…
akademiese joernale…
post-natale…
psigiantriese siektes…
Hierdie taal is genoeg om mens sommer dadelik te laat selfmoord pleeg !